Rise In Red rooiwarm op hul debuutalbum

0
107
Die manne Rise In Red het al die verhoog gedeel met verskeie groot name, waaronder Prime Circle AKING, Dan Patlansky, Francois van Coke en vele meer. FOTO: RISEINRED.COM

Die aanbreek van Augustus lui ‘n belangrike tydperk in vir die Bloemfonteinse alternatiewe rockgroep Rise In Red. Hul debuut-album word teen middel vandeesmaand bekendgestel.

Die groep het bekendheid verwerf vir hul inspirerende lirieke en ongelooflike verhoogpersoonlikhede. Vroeër vanjaar het hulle aanhangers opnuut beïndruk met die vrystelling van hul nuutste enkelsnit, “In Between The Lines”, wat baie goed ontvang is en reeds speeltyd kry op verskeie radiostasies regoor die land.

Die groep bestaan uit Dustin McCrindle, hoofsanger en ritmekitaarspeler, wat ‘n apteker is wat daarvan hou om aktief te wees; Jayson Reynolds, die groep se hoofkitaarspeler, wat ‘n onderneming in webtoepassings en handelsmerke bedryf; Pierre du Toit, baskitaarspeler wat ‘n fiksheidsinstrukteur is en sy eie gimnasium besit; asook Jaco Novella, tromspeler wat sy eie rekenkundige onderneming besit.

Rise In Red is hoofsaaklik in 2010 begin as ‘n projek wat gemik was op liedjieskryf en -vervaardiging, maar teen 2015 het hulle dit reggekry om hulle eie unieke styl te skep en begin fokus op openbare optredes. Sedertdien het hulle van krag tot krag gegaan en die verhoog gedeel met verskeie groot name, waaronder Prime Circle AKING, Dan Patlansky, Francois van Coke en vele meer.

Luidens ‘n verklaring van die viertal se bemarkingsmaatskappy fokus die nuwe album daarop om hoop te bring ten spyte van die chaos wat tans in Suid-Afrika en die wêreld heers.

“Dit bied nie net ‘n moderne benadering tot rock-musiek nie, maar ook ‘n versameling van aangrypende klanke, deernisvolle lirieke en hope emosie wat direk met die siel sal praat.
“Die CD spog met 11 oorspronklike snitte uit die groep se eie pen.

Alhoewel daar ‘n groot verskeidenheid ritmes en genres of die album verskyn, werk die liedjiekeuses goed saam om Rise In Red se musikale veelsydigheid doeltreffend ten toon te stel,” lui die verklaring.

Hoewel die groep reeds sedert 2017 aan die CD werk, voel hulle dat dit die wag werd was. “Ons het onmiddellik aanklank gevind by ons vervaardiger, Stef Myburgh, omdat hy volkome verstaan het watter styl en klank ons vir die album wou hê.

Met tye was dit ‘n uitdaging om die energievlakke hoog te hou en vir dae aaneen opnames te doen, maar ons het die meeste van elke oomblik gemaak,” meen Reynolds.

Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za