Richards oorgehaal om wêreldtitel te verdedig

0
660
MORGAN PIEK

Die huidige seniorvroue-wêreldkampioen in biathle (hardloop, swem, hardloop – alles aaneen), die 38-jarige Teresa Richards (Kovsies), lyk oorgehaal om die titel wat sy verlede jaar Die huidige seniorvroue-wêreldkampioen in biathle (hardloop, swem, hardloop – alles aaneen), die 38-jarige Teresa Richards (Kovsies), lyk oorgehaal om die titel wat sy verlede jaar in Guatemala verower het, suksesvol te verdedig.

Richards het Sondag op die Vrystaatkampioenskap by Hoërskool Sentraal die krane behoorlik oopgedraai toe sy die afdeling vir senior vroue in ‘n haastige 14:22,61 gewen het en sodoende met meer as twee minute korte mette gemaak het van die kwalifiserende tyd (16:42) vir deelname aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap.

Richards het ook gewys dat haar kop reg aangeskroef is vir die wêreldkampioenskap wat in Oktober in Georgia (VSA) beslis word toe sy Sondag saam met die jongelinge (jeug-A, meisies o.17) deelgeneem het en hulle behoorlik uitgestof het.

Sy was ná die eerste hardloopskof (1500m) en swemskof (200m) nog agter Jayme-Sue Vermaas (Oranje), wat die afdeling vir jeug-A, meisies o.17 gewen het, maar in die tweede hardloopskof was daar geen keer aan Richards nie. Sy het uiteindelik 22,46 sekondes voor Vermaas geëindig. Daar moet genoem word dat Vermaas die vorige dag aan die Suid-Afrikaanse jeug- en junior atletiekkampioenskap aan die 2000m-hindernis deelgeneem het. Sy het Sondag 14:45,07 aangeteken en het kleingeld gemaak van die kwalifiserende standaard (17:02) vir die nasionale kampioenskap en die tweede atleet in haar ouderdomgroep, Charné Viljoen (Oranje, 15:54,10) met meer as ‘n minuut verslaan.

Heinrich Bruhns (Grey), wat soos Vermaas nie bang is om aan verskeie sportsoorte deel te neem nie en ook by genoemde atletiekkampioenskap (800m en 1500m) meegeding het, het Sondag ‘n puik wedloop beleef en die jeug A-afdeling vir seuns in ‘n haastige 13:21,18 gewen. Hy het vir Frans Marx (14:12,79) ver agterweë gelaat vir laasgenoemde se tweedeplek. Albei van hulle het die kwalifiserende standaard (14:41) vir die nasionale kampioenskap maklik oortref.

Die ander wenners was: Mans: Meesters-B-afdeling: Adri Vermaas (9:33,55), juniors: Johan Conradie (14:10:44). Seuns: Jeug-B-afdeling: Henro Bender (10:33,20), Jeug-C-afdeling: Gean Viljoen (4:54,04), Jeug-D-afdeling: Marko van der Berg (4:36,44), Jeug-E-afdeling: AC Greyling (5:12,44). Vroue: Meesters-B-afdeling: Stella Heyns (12:59,89), Meester-A-afdeling: Sorita Viljoen: 10:27,53). Meisies: Jeug-B-afdeling: Zelda van der Merwe (10:35,33), Jeug-C-afdeling: Nadine Kemp (5:08,64), Jeug-D-afdeling: Selma du Preez (4:18,63), Jeug-E-afdeling: Miche Johns (5:01,10), Jeug-F-afdeling: Donna le Roux (2:45,54).