Riana: Van Parkweg tot Verenigde Nasies

0
1831
Senior navorser in die afdeling: Vredesoperasies en Vredesbou van die Verenigde Nasies, Riana Paneras.

Van jong polisievrou tot die eerste vrou wat as polisiekommissaris vir die Afrika-unie en Verenigde Nasies se missie in Darfur aangestel is. Dit is Riana Paneras se merk-waardige verhaal.
Paneras het 37 jaar van haar lewe aan die polisie gewy en is beslis iemand om na op te sien.
Paneras is tans in Bloemfontein vir ‘n kort vakansie en Courant het gaan kuier by dié merkwaardige vrou.
Paneras vertel sy het op 12-jarige ouderdom al besluit sy wil eendag ‘n polisievrou word. In daardie stadium is daar in die “ou Suid-Afrika”, net 96 vroue in die land gekies om by die Polisiekollege aan te sluit. Sy het op 30 Desember 1978 ingeskryf en op 14 Januarie 1979 by die kollege ingeval, en dit is waar haar loopbaan begin het.
Oor die jare was sy onder meer speurder en later bevelvoerder by Parkweg-polisiestasie. Die tyd wat sy by Bloemspruit-polisiestasie gestasioneer was, beskou sy vandag as die lekkerste tyd in haar loopbaan as polisievrou. Daar het sy met die armste van armes gewerk en sy vertel hoe die mense daar na haar verwys het as ‘n “mother of love”.
Dit was nog altyd vir haar ‘n groot mylpaal in haar lewe. Tans is Paneras senior navorser in die afdeling Vredesoperasies en Vredebou vir die Verenigde Nasies en die Afrika-unie in Addis Ababa.
As lid van die Afrika-unie-polisie se strategiese ondersteuningsgroep was sy die spanleier wat verantwoordelik was vir die ontwikkeling van ‘n beleid oor die AU-polisie in Vredesondersteuningsoperasies. Sy is ook raadslid van die Afrika Vredesondersteuningsopleiers-vereniging.
Oor die jare het sy haar Mestersgraad in Publieke Administrasie gewerf met spesiale fokus op Polisiebestuur, organisatoriese ontwikkeling en beleidsanalise.
Die woorde van Miles Monroe, “Leadership is not determined by how many people serve you, it is determined by how many people you serve”, lê haar na aan die hart. Dit dra by tot haar besluit dat as sy iets wil doen, doen sy dit, maak nie saak wanneer of hoe lank dit duur nie.
Haar toekomsplane sluit ‘n doktorsgraad in. In haar vrye tyd wil sy dan ook meer fokus op dekor, klavierspeel, lees en dans, “die dag as ek rêrig aftree”. Vir nou geniet sy haar werk en sy glo dit is haar roeping om mense te help. – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za