Reusagtige kunswerke op almal se lippe

0
1664
Marius Jansen van Vuuren FOTO: XANY JANSEN VAN VUUREN

Die naam, Marius Jansen van Vuuren, was vroeër vanjaar op die lippe van joernaliste wêreldwyd toe hy bekend geword het vir sy reuse-kunswerke.

Hy is die kunstenaar agter verskeie reusagtige kunsbeelde wat regoor die wêreld hul verskyning maak in openbare ruimtes. Die jongste hiervan was ‘n tien meter hoë eekhoring wat uit staal, strooi en riete gemaak is en in die gewilde Atakent Square in Almaty, Kazakstan, staan.

Die kunstenaar se liefde en passie om groot kuns aan te pak het reeds in sy studentejare ontwikkel. “As kunsstudent het ek altyd geweet ek wil iets groots doen. Ek wil met kuns ‘n dialoog ontketen wat saak maak. Min het ek geweet dat my wens letterlik sou waar word.”

Hy het na sy studies in die kunste aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi en as lektor in die kunste aan die Motheo FET College gewerk. Hy het egter besef dat dit nie die paadjie is wat hy vir die res van sy lewe wou stap nie. “Ek het ‘n paar jaar gelede besef dat ek as kunstenaar nie vervulling kry as ek nie op my eie kan werk nie. Ek het besluit om te bedank en kort daarna het deure vir my oopgegaan met werk wat ek op internasionale vlak kon doen,” vertel hy.

Voor die eekhoringprojek het Marius saam met ander kunstenaars in 2016 ‘n reuse-kameelperd in Bloemfontein gebou as deel van die Vrystaat Kunstefees. Hy het ook ‘n massiewe jakkals in China, wat voor die Bird Hotel in Shanghai staan, herbou.

Jansen van Vuuren fokus veral op beeldhouwerk en is lief daarvoor om met gemengde media te werk. ‘n Groot oorweging vir hom wanneer hy skep, is dat hy met sy kuns moet bydra tot die gemeenskap in plaas van wegneem. Hy wil dit aan almal beskikbaar maak instede daarvan om dit eksklusief te hou.

Sy volgende projek behels beeldhouwerk vir ‘n Art Walk in Worcester. “My lewensuitkyk is dat jy alles moet probeer. Moenie dat vrees jou keer om jou talente uit te leef en jou horisonne te verbreed nie. As dit nie vir jou werk nie, dan weet jy ten minste jy het probeer.” – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za