Restaurant spog nou met Braille-spyskaart

0
1961
Songezo Nswenya, 'n kelner by Iewers Nice, wys die nuwe Braille-spyskaart. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Andries Coetzee, mede-eienaar van Iewers Nice, glo dat dit belangrik is om mense te laat goed voel. Hy wil ook graag iets anders vir mense bied. Dit is die rede vir sy splinternuwe idee, ‘n Braille-spyskaart vir blinde mense.
“Blinde mense kom nie so gereeld uit nie, maar as hulle doen, is hulle afhanklik van ander mense. Dus is die spyskaart opgestel en gemaak vir blinde mense om hulself te kan help,” vertel Coetzee.
Hy het besluit dat die Braille-spyskaart presies dieselfde as die gewone spyskaart bewoord moet word. ‘n Goeie vriendin van Coetzee van die Universiteit van die Vrystaat het hom met die spyskaart gehelp.
Die spyskaart is sedert die begin van April al by die koffiewinkel beskikbaar en is reeds gewild onder besoekers. “Die blinde klante is mal daaroor,” sê Coetzee.
Iewers Nice bestaan al sowat tien jaar en van sy werknemers werk al langer as vyf jaar daar. Coetzee beskryf die koffiewinkel as ‘n gemeenskapswinkel. “As jy hierheen kom, moet dit jou siel sowel as jou maag voed,” vertel hy.
Coetzee noem dat baie individue se lewens al verander het ná ‘n besoek aan die koffiewinkel. Hy kan baie stories vertel oor dinge wat hy deur die jare ervaar het. Op die vraag oor wat die geheim agter die verandering in mense se lewens is, antwoord hy, “Mense van alle kulture, gelowe en rasse kom vir ‘n kuier na Iewers Nice. Ek probeer altyd die saadjie plant wat die persoon moet laat dink en dikwels sien mense hul probleme dan in ‘n ander lig.”

JERETHA OOSTHUIZEN
jeretha@mahareng.co.za