Resep vir ’n dooie grasperk

0
1114

DS STEPHAN VAN HEERDEN

Dorpe en stede het elkeen ’n eie kultuur en mense verskil van provinsie tot provinsie. In een van die gemeentes waar ek voorheen was, het ek in ’n huis ingetrek waar die gras en die tuin byna dood was. Daar was bitter min aandag aan die tuin gegee. In my gedagtes het ek besef dat daar nogal ’n resep is vir die kweek van ’n dooie grasperk. Hierdie geheime formule vir ’n dooie grasperk is geen water, geen kunsmis en geen moeite. Min mense sal dié formule deel van hulle lewe wil maak; nogtans is dit die formule wat soms sin maak vir ons geestelike lewe. Ons doen min moeite en aanvaar maar ons geestelike groei as vanselfsprekend. Ons sukkel selfs om die onkruid in ons lewe uit te trek. Slegte gewoontes soos die ou bekende ‘dikmond’ rondloop, aggressie en woede. Die skrywer van Spreuke het baie jare gelede dieselfde waarheid beskryf en hy het die lui man se tuin so beskryf: “Dit was heeltemal oortrek van die onkruid, toegegroei onder die bossies en die klipmuur het omgeval.” Spreuke 24:31,32. Dié teks het my laat besef dat die formule vir ’n dooie grasperk dieselfde is as vir ’n geestelike lewe wat dood is. ’n Mens sou dit kon beskryf met een woord: ‘verwaarlosing’!” Die vraag sou dalk wees: Hoeveel moeite doen jy nog met jou geestelike lewe?

* Van Heerden is ‘n geestelike leier by die NG Klipkerk en pastorale terapeut.