Renosterstropery: Vier mans gevonnis

0
266
PHOTO: 123rf.com

Vier mans is gevonnis in die Bloemfonteinse Streekhof en sal tyd agter tralies deurbring vir die sameswering om misdaad te pleeg. Een van hulle sal ’n paar jaar langer agter tralies deurbring weens die besit van ’n onwettige hoëkaliber-vuurwapen.

Op die aand van 24 September 2023 het die polisie in die Vrystaat deur hul ‘Eyes and Ears’ (E2)-inisiatief inligting ontvang oor ’n verdagte voertuig wat op die N6 in die  rigting van Bloemfontein op pad was. Volgens inligting was daar ’n ongelisensieerde vuurwapen in die voertuig.

Omstreeks 22:30 het lede van die Bloemfonteinse Blitspatrollie-eenheid ’n Audi A4 gestop en tydens hul deursoek het hulle ’n .458 kaliber jaggeweer, waarvan die reeksnommer afgevyl was, ontdek.

“In die voertuig het die polisie nege .458 rondtes ammunisie, een knaldemper vir ’n vuurwapen, verskeie rolle tinfoelie, ’n koelsak, en drie jagmesse gevind. Die eenheid is ook deur die Veeverlies- en Bedreigde Spesies Eenheid van Bloemfontein bygestaan aangesien die vermoede was dat die verdagtes daarop uit was om renosters in die Bethulie/Smithfield-gebied te stroop,” het polisiewoordvoerder Loraine Earle vertel.

Volgens Earle het Andries Melusi Mkhabela (40), Solomon Mahlaule (48), Johannes Maluleke (60) en Daniel Bqaq (31) – te danke aan die deeglike ondersoek van die ondersoekbeampte, Adjudant-offisier Stefan Grobbelaar – skuldig gepleit op die klagte van sameswering om ’n misdaad te pleeg in oortreding van die Nasionale Omgewingsbestuur: Wet op Biodiversiteit (10 van 2004).

Maluleke het ook skuldig gepleit op die aanklag van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

“Al vier mans is elk tot vyf jaar direkte gevangenisstraf veroordeel, en nog ’n vyf jaar vonnis is aan Maluleke gegee vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie,” het Earle gesê.

 

Saamgestel deur Warren Hawkins

warren@mahareng.co.za