Renosterhoring – niks meer as perdehoef

0
4700

OWEN KOCK

Daar is geen verskil tussen renosterhoring en die hoef van ’n perd nie, so stropers, en die wat dit koop, is die kluts ewe veel kwyt.
Dít het aan die lig gekom ná ’n onderhoud met Pelham Jones, voorsitter van die Privaat Renoster Vereniging in Pretoria. Hy sê renosterhoring het geen medisinale waarde nie, en sê dis niks anders as kreatin nie, met ander woorde, dit is net soos die hoef van ’n perd.   Teen die einde van verlede week is bykans 570 renosters reeds in Suid-Afrika gestroop, baie meer as die 448 wat verlede jaar vir hul horings gedood is.  Die Kruger Nasionale Park het die ergste deurgeloop, gevolg deur Noordwes en KwaZulu-Natal. Oktobermaand was die ergste, met 75 renosters wat gedood is.Teen 19 November het die getal op 42 gestaan.  Renosterhoring verhandel teen R566 000 per kilogram. Dis tans baie meer werd as die edelmetaal goud.  ’n Boer van Noordwes, Braam van Greuning, wat drie weke gelede nie minder 11 renosters verloor het, het nou die “deur agter hom toegemaak”, soos wat hy dit noem, en sy oorblywende renosters òf verskuif òf verkoop.

“Dit is soos kinders wat jy grootmaak en dis hartseer om hulle te verloor. Almal het die renosters geken en dis nie lekker om te sien dat hulle gedood word nie. Renosterjag moet gewettig word en dan sal die stroping dalk verminder. Kyk dit sal nooit stopgesit word nie, soos dit ook maar gaan met olifante en alle onwettige handel, maar dit sal aansienlik verminder,” het Van Greuning gesê. Hy het bygevoeg dat die regering aandag aan die probleem moet gee en dit in Maart volgende jaar opper tydens CITES (Convention on International Trade in Endangered Species of Wild Fauna and Flora) se kongres, aangesien boere CITES nie kan nader nie, maar die regering wel.

Die Thaise burger, Chumlong Lemtongthai is onlangs 40 jaar tronkstraf opgelê vir sy betrokkenheid by die onwettige handel van renosterhoring, en hopelik sal dit vermeende stropers die skrik op die lyf jaag.  Horings word hoofsaaklik na die Ooste uitgevoer waar daar geglo word dit help om die libido aan te wakker.  “Die bewering dat renosterhoring ’n afrodisiak is, is vals. As jy kyk na die oorspronklike rekords wat 2 000 jaar terug gaan, dan kan daar gesien word dat die oorspronklike gebruik daarvan was om koors teen te werk. Daar is deur verskeie universiteite getoets om te probeer bepaal of dit hoegenaamd enige medisinale waarde het, en die uiteinde was dat dit basies dieselfde as ’n vingernael is en die naaste aan ‘n perdehoef is,” het Jones gesê.
Hy sê veral in Viëtnam is dit ’n status-simbool, amper soos om ’n Ferrari te besit.

“Daar word beweer veral wanneer die Viëtnamese té veel gedrink het, hulle die volgende oggend van die renosterhoring gebruik en dit hulle dan ook opkikker, en dis absolute bog.  Dit gaan oor die wat geld het en die wat nie het nie, en dit word vanweë die prys as ’n wonder-produk gesien,” het Jones aan Courant gesê.