Relian is nie ’n man se (skool)maat nie

0
Relian is nie ’n man se (skool)maat nie

Westus Relian is nie jou gemiddelde 16-jarige nie. Hierdie graad 11-leerling aan Hoërskool Sentraal in Bloemfontein is een van die deelnemers wat tydens die vierde Night of the Champions (NOTC4) gemengde gevegskunstoernooi (MMA) op 2 Maart te sien sal wees.  Die byeenkoms, wat in die Tempe-binnehuise-sentrum sal plaasvind, is Relian se tweede geveg in die hok. By die vorige NOTC het hy sy debuut gemaak en nie net gewen nie, maar dit met ’n uitklophou vermag. Die veelsydige bakleier is oorgehaal vir nog meer.

Relian beoefen al van graad 8 af die sport by Prodigy MMA, maar het dit verlede jaar ernstiger begin benader.  “Ek het eers saam met ’n vriend dit begin doen, want dit het so ‘wow’ gelyk,” vertel Relian. “Ná ek so ’n rukkie geoefen het, en ’n bietjie gewig opgetel het, het ek besluit om voluit te gaan vir MMA. Ek sal graag professioneel wil wees eendag.”  Relian het verlede jaar ook begin karate leer by sy afrigter Quintin Rourke en het alreeds tot ’n blou gordel gevorder. Dit maak hom soveel meer aanpasbaar en minder voorspelbaar in ’n hokgeveg.

En vra hom hoekom mense NOTC4 moet kom ondersteun sê hy:
“Dit is definitief goeie vermaak en as ek nie self deelgeneem het nie sou ek dit wou kyk. Ek glo daar sal baie uitklophoue wees, waarvan mense gewoonlik hou.”

Vir meer inligting oor die kaartjieverkope van NOTC4 kontak gerus die organiseerders by 083-612-8590.

No posts to display