Rekords vir gestremde Bloemfontein-atlete

0
800

Twee junior atlete van Bloemfontein, Danie Breytenbach en Joanelie Meijer, het op die onlangse Suid-Afrikaanse atletiekkampioenskap vir atlete met fisieke en visuele gestremdhede in Pretoria die rekords laat spat. Breytenbach spog met twee en Meijer met een Suid-Afrikaanse junior (18-jaar) rekord. Die blinde (T-11-klas) Breytenbach, wat ’n skitterende nasionale byeenkoms agter die blad het, het op die eerste dag sy eie nasionale rekord in die 800 m saam met sy gids, Barry Williams, na 2:23.58 verbeter. Breytenbach sou graag vinniger as 2:20.00, die kwalifiserende tyd vir die Wêreldkampioenskappe vir seniors in Julie in Lyon, Frankryk, hardloop, maar toestande was nie in sy guns nie.

Die wind het dinge bemoeilik en Breytenbach was ook in ‘n ligte "botsing" betrokke toe hy en een van die ander deelnemers in mekaar vashardloop by die wegspring. Op dag twee het Breytenbach in die 1500 m vergoed toe hy in ’n uitstekende 5:05,64 gewen het. Sy vertoning in die langer wedloop was ’n verrassing aangesien hy op die 800m-rekord gefokus het en toe op die koop toe ook in die langer wedloop ’n nuwe Suid-Afrikaanse rekord opgestel het. Breytenbach het op die derde dag sy derde goue medalje in die 400 m (1:03,69) verower. Sy wentyd is die beste van sy loopbaan. Meijer het ook drie goue medaljes verower. Sy het die 100 m-naelloop (T-38) in 15.00 afgeblits.

Dit het haar laat kwalifiseer vir deelname aan die Wêreldkampioenskappe. Meijer het die atlete wat onderskeidelik tweede en derde geëindig het, Samkelisiswe Buthelezi (Kwazulu-Natal, 16.61) en Jessica Josias (Westelike Provinsie, 16.77), oortuigend geklop. Dieselfde gebeur toe weer in die 200 m. Meijer was eerste in 30.92 en Samlelisiswe (35,25) en Josias (36,40) eindig tweede en derde. Buiten Meijer, het nog drie atlete van Bloemfontein, Jacques de Bruin (100 m en 200 m, T-13-klas) Teboho Mokgaladi (100 m en 200 m, T-35-klas) en Louzanne Coetzee (800 m, T-11-klas), ook kwalifiserende tye aangeteken vir die Wêreldkampioenskappe vir seniors in Julie in Frankryk.