Rekords tuimel op Motheo/Gariep-byeenkoms

0
3276
Tielman Nieuwoudt van Grey-kollege het Saterdag tydens die Motheo/Gariep-atletiekkampioenskap op die Mangaung-atletiekstadion in Bloemfontein met 'n rekordpoging in die gewigstoot vir seuns 15 jaar bykans 'n meter verder gegooi as verlede jaar se SA skolekampioen. FOTO: Marnus Van Wyk

Die tendens duur voort. Veldnommeratlete in die Motheo/Gariep-streek is besig om die rekordboeke te herskryf, terwyl baannommeratlete ‘n rekorddroogte beleef. Dertien byeenkomsrekords is Saterdag tydens die Motheo/Gariep-atletiekkampioenskap op die Mangaung-atletiekstadion in Bloemfontein behaal, waarvan slegs twee in baannommers vermag is.
Daar moet egter dadelik bygevoeg word dat drie van die rekords in die veldnommers deur een persoon verbeter is, en dit is die Vrystaat se voorste veldnommeratleet, Tharina van der Walt (Jim Fouché). Daar is nie einde aan hierdie begaafde atleet nie en sy verbeter rekords asof dit uit die mode gaan. Van der Walt het Saterdag in die afdeling vir meisies, 17 jaar, ‘n uitmuntende goue driekuns behaal en vir al drie byeenkomsrekords agter haar naam geskryf. Sy het in die gewigstoot met ‘n goeie afstand van 14:30m losgetrek. En, dit is nou die nommer waaraan sy slegs “vir die pret” deelneem. In die diskusgooi het sy haar skyf 46,66m ver deur die lug laat trek vir haar tweede rekord.
Dit was egter in die hamergooi waarin sy haar beste vertoning van die dag en ook van die byeenkoms behaal het. Sy het die ysterbal met die gras laat kennis maak op ‘n skitterende 61,25m, ‘n raps meer as ‘n meter kort van haar eie SA skolerekord van 62,18m.
Nog beter, dié gooi was nóg nader aan haar eie ASA (Atletiek Suid-Afrika)-jeugrekord van 61,87m. Dit blyk dat Van der Walt binnekort albei genoemde rekords gaan verbeter.
Die sterkgeboude Tielman Nieuwoudt van die Hoërskool Grey-kollege beskik oor die vermoë om kort voor lank in een van die beste gewigstoters te ontwikkel wat die land nog opgelewer het. Hy het in die afdeling vir seuns
15 jaar sy ysterbal byna aan die anderkant van die magiese grens van 18m laat land. Hy het ‘n byeenkomsrekord van 17,94m agter sy naam geskryf.
Hierdie vertoning is iets om oor opgewonde te raak, want sy gooi was bykans ‘n meter verder as verlede jaar se SA titelgooi van die Wes-Kapenaar, André Bester, wat 17,02m gegooi het vir sy goud. – Rufus Botha 
info@bloemfonteincourant.co.za

Byeenkomsrekords:

Die ander byeenkomsrekords is: Seuns: 19 jaar: Driesprong: Colisile Sephokoana (Louis Botha, 15,32). 17 jaar: Hamergooi: James Havinga (Fichardtpark, 56,71); Spiesgooi: Janus Schlebusch (Grey, 67,16). 14 jaar: 300m-hekkies: Lerato Manyane (Grey, 40,99). Meisies: 17 jaar: Spiesgooi:
Elzé Wilke (Jacobsdal, 43,71). 16 jaar: Spiesgooi: Minilise Reynders (Sentraal, 38,38). 15 jaar: Spiesgooi: Heike de Nysschen (Sentraal, 42,07), 15 jaar: 3000m: Lerato Lesia (Lereko, 12:12,31), Gewigstoot: Su-Mari Gouws (Fichardtpark, 13,23).