Die regsverteenwoordigers van die 23 studente van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) gaan na verwagting aansoek doen dat klagte teen hulle laat vaar word.
Die studente is gister deur die Bloemfonteinse Landdroshof op waarskuwing vrygelaat nadat hulle laat Dinsdagaand in hegtenis geneem is toe hulle die strate ingevaar het as deel van die landwye betoging teen die verhoging van klasgelde by universiteite.
Hulle het op klagte van saakbeskadiging, ‘n onwettige optog en openbare geweld verskyn. Regshulp SA verteenwoordig al 23 studente.
Machini Motloung van Regshulp SA het gister se hofbevinding verwelkom. Hy sê hulle poog om altyd in die beste belang van hulle kliënte op te tree en sover is die bewyse daar dat die staat se saak nie baie sterk is nie.
“Dan gaan ons maar die nodige aansoek bring vir die terug trek van die klagte om sodoende hoftyd te spaar,” sê Motloung. – Cathy Dlodlo/Courant-nuus