Registrasieproses in Vrystaat het goed afgeloop – OVK

0
1021

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) in die Vrystaat is tevrede met die opkoms die naweek by registrasiepunte oor die provinsie heen. Die OVK se provinsiale woordvoerder, Mmathabo Rasengane, sê geen ontwrigtings het by die meer as 1 500 stempunte voorgekom nie. Die registrasieproses in die provinsie het goed verloop. Dit was die laaste geleentheid vir Suid-Afrikaners om hulle te registreer om in die munisipale verkiesing later vanjaar te kan stem.

Meer as 3 300 mense het hulle Saterdag en Sondag in die Vrystaat geregistreer. Mense het ook by die registrasiepunte opgedaag om hulle te herregistreer of om seker te maak dat hulle op die  kieserslys is. Rasengane sê OVK-beamptes het nie mense, wat laat gistermiddag op die laaste nippertjie nog in rye by verskeie registrasiepunte gewag het, weggewys nie.

Die 2016-munisipale verkiesing is vir 3 Augustus vanjaar geskeduleer. Rasengane sê voornemende kiesers in die Vrystaat kan steeds by OVK-kantore by al 19 munisipale kantore in die provinsie registreer.  Die OVK sê meer as drie miljoen kiesers oor die land heen het die naweek registrasiepunte besoek.  – Christal-Lize Muller