Regeringswerknemerspensioenfonds: jou opsies

0
1254

HORACE TERRY

Ek kry die laaste tyd heelwat navrae rondom die opsies tot staatsdiensamptenare se beskikking met betrekking tot hulle pensioenfonds, die regeringswerknemerspensioenfonds (GEPF). Natuurlik het baie van die navrae te doen met die aantal gerugte wat tans die rondte doen. Die meeste van die gerugte is ongegrond, en nie waar nie, maar baie kliënte het tog geldige bekommernisse rakende hulle aftrede, en dit is belangrik dat jy altyd bewus is van jou opsies. Soos ek verstaan is daar heelwat persone wat die laaste tyd ag geslaan het op die gerugte, en impulsiewe besluite rakende hulle deelname aan die GEPF geneem het. Die emosionele besluite het vir dié persone gelei tot ‘n aansienlike belastingaanspreeklikheid, wat ‘n groot hap uit hulle aftredevoorsiening gemaak het, wat moeilik weer teruggemaak gaan word. Die belangrikste om te besef wanneer dit by die GEPF kom is dat die GEPF ‘n vastevoordeelpensioenfonds is en anders werk as die meeste ander pensioenfondse in die land. Amper alle voordele wat jy het op die GEPF word deur middel van formules bepaal, en nie soseer dit wat jy al bygedra het tot die GEPF nie. Dan natuurlik, vir die persone met lang jare diens, sal slegs die gedeelte van die enkelbedrag van post-Maart 1998 volgens die huidige aftreeskale belas word. Dit, voor Maart 1998, is belastingvry. Daar is dus tans nog heelwat staatsdiensamptenare wat weens hulle lang jare diens, hulle volle enkelbedrag (lump sum) wat beskikbaar is, belastingvry kan ontvang by aftrede. Indien jy egter nie sulke lang jare diens het nie, en jou jou pre-Maart 1998-diensjare is maar kort, of jy het eers na Maart 1998 by die GEPF aangesluit, sal daar waarskynlik ‘n gedeelte wees van jou enkelbedrag wat soos enige ander pensioenfonds belas sal word. Sou jy nog nie 55 jaar oud wees nie en jy besluit om te bedank, sal die belastingimplikasies anders daar uitsien. Moet net nie dat jou bedankingsvoordeel na jou bankrekening uitbetaal nie, jy gaan belasting betaal daarop, en jy gaan sukkel om dit in die toekoms terug te maak. Die volgende twee weke sal ons in meer diepte kyk na jou opsies met bedanking, asook jou opsies met aftrede.

* Terry is ‘n gesertifiseerde finansiële beplanner en beleggingsadviseur by Nassaux Blouster.