Owen Kock
Die R60-verhoging in die maandelikse staatspensioen vir ouer persone is met gemengde gevoelens begroet.
Terwyl van die ouer persone baie bly daaroor is, is daar ook die wat glo die regering doen hopeloos te min en voel hulle behoort beter behandeling te kry. Tydens sy begrotingsrede het die Minister van Finansies, Pravin Gordahn, aangekondig dat pensioengelde met R60 verhoog word, wat beteken dat ‘n bedrag van R1 260 op maandelikse grondslag aan ouer persone uitbetaal word.
Die Age in Action-dienssentrum in Bloemfontein wat help met die opleiding en ontwikkeling van ouer persone, asook die wat mishandel word bystaan, is van mening dat die R60 ‘n verskil maak.
Volgens hul direkteur, Priscilla Kock, verwelkom hulle die geld, want in sommige huishoudings gaan dit werklik ‘n verskil maak.
“Die geld bring mee dat daar nou in sommige huise brood en melk gekoop kan word. Dit is geld wat hulle (ouer persone) nie voorheen gehad het nie. Dit klink dalk na min geld, maar glo my, dit gaan ‘n verskil maak,” het Kock aan Courant gesê.
‘n Ouer persoon met wie daar gesels is, Maggie van Wyk, het haar dank teenoor die regering uitgespreek.
“Dit is nou wel ‘n druppel in die emmer, maar ons is dankbaar daarvoor. Ek het gedink dat die geld teen die tyd meer sou wees, maar ons is tevrede. Ek het ‘n tante wat by my bly en ook pensioen kry, so dit gaan darem nie te swaar nie,” het Van Wyk laat weet.
Dit is egter ‘n ander storie vir Rose Bester. Sy is glad nie gelukkig met die verhoging wat Gordahn aangekondig het nie, maar sê sy, sy wil nie in sy skoene wees nie.
“Ek dink dis ‘n skande dat ons so min geld kry. Ons het bygedra tot die Werkloosheidversekeringsfonds, net soos almal. Ek en my man kry altwee pensioen en dit beteken daar is R120 meer.
“My man se geld gaan vir krag en myne vir kos. Ons onderklere is gedaan en daar kan eenvoudig nie gedink word aan die dag van môre nie, om nie eers te praat van ‘n begroting nie,” het Bester onsteld gesê.