Reënweer help Cheetahs voorberei

0
603
Die Cheetahs se skrumskakel, Ruan Pienaar, is van mening dat die span sal baat by die onlange reën in die Rosestad voordat hul Europese Uitdaagbeker-veldtog van stapel gestuur word. FOTO: MORGAN PIEK

Die Toyota Cheetahs verwelkom die reënweer van die afgelope week in Bloemfontein terwyl hulle voorberei vir hul terugkeer na Europa volgende maand.

Die Cheetahs vertrek in Desember wanneer hulle aan die Europese Uitdaagbeker gaan deelneem. Hulle sal aanvanklik Section Paloise van Frankryk en Scarlets van Wallis in “tuis”- en wegwedstryde teëkom. Die Cheetahs sal vir die duur van die toernooi in Parma, Italië, gebaseer wees. Dit is ook waar hul “tuis”-wedstryde gespeel sal word.

Een van die grootste fokusareas vir die Cheetahs is hul spel in nat weerstoestande, wat word met die Europese winter wat aanbreek. Die span het verlede week Maandag, ná ‘n kort blaaskans van ’n week, vir oefening aangemeld en hul strategie vir nat toestande was die fokus.

Die Cheetahs-afrigter, Hawies Fourie, het aan Bloemfontein Courant gesê om in die reën te kan oefen was ‘n seën vir die span.

“Sedert verlede Maandag, toe ons weer begin oefen het ná die breek van die Toyota-uitdaagreeks, het ons baie tyd aan ons natweer-wedstrydplanne bestee om effektiewe rugby in die noordelike halfrond se toestande te kan speel.

“Gelukkig het dit Maandag vir die grootste deel van die oefensessie gereën en die spelers het ‘n voorsmakie gekry van hoe glad die bal gaan wees en hoe moeilik dit is om die bal te hanteer of aan te gee, ens. Dit is ‘n bedekte seën dat ons die geleentheid gekry het om in die reën te kon oefen. Dinsdag moes ons dit weer doen. Dit help baie vir ons voorbereiding vir die twee wedstryde in Desember wanneer ons teen Scarlets en Pau speel.”

Die Cheetahs is in ‘n posisie waar hulle net ‘n handjievol spelers het wat ondervinding in Europese toestande het. Een van hulle is die Springbok-skrumskael, Ruan Pienaar, wat vele seisoene vir Ulster in Noord-Ierland en Montpellier in Frankryk gespeel het.

Pienaar, wat by verre die mees ervare rugbyspeler in Suid-Afrika is, het aan Bloemfontein Courant gesê om vir nat weersomstandighede aan te pas is maar een van die aspekte van hul spel wat hulle moet regkry.

“Daar is ‘n hele paar dinge wat ons sal moet aanpas voordat ons in Desember vertrek, en een van daardie dinge sal die weer wees, wat heelwat anders sal wees as wat ons die laaste maand in die Toyota-uitdaagreeks teëgekom het. So ek dink die reën is ‘n wonderlike ding om ons te help voorberei, en ek dink dit sal ons ook toelaat om een ​​of twee dinge aan te pas voordat ons oorgaan.

“Dis wonderlik vir ons om in die reën te oefen en hopelik gee dit ons ‘n voorsmakie van wat ons oor ‘n maand teëkom. Daar is beslis ‘n paar dinge wat ons sal moet aanpas voordat ons oorgaan.

“Die manne is opgewonde en gereed om te gaan. Ons weet dit gaan beslis ’n groot uitdaging wees, maar ons sien uit daarna.”

Intussen het die Cheetahs hul nuwe trui bekend gestel wat vir die Europese Uitdaagbeker gebruik sal word. Dit is een met oranje en wit hoepels, baie soortgelyk aan ‘n vorige trui wat tydens die PRO14 gedra is.

Die Cheetahs sal oor ‘n maand teen Section Paloise in Pau te staan kom, wat weer hul eerste wedstryd terug in Europa sal wees. – MORGAN PIEK