Reën stop DBV in hul spore

0
1282

OWEN KOCK

Die Bloemfonteinse Dierebeskermings Vereniging kon weens die swaar reën die naweek nie daarin slaag om met hul werksaamhede voort te gaan, waartydens honde gesteriliseer word, nie.

Die plan was om sowat 100 honde in Reddersburg te sterliseer, maar erge reën het ‘n stokkie daarvoor gesteek, het senior inspekteur Reinet Meyer aan Courant gesê.

“Die veearts het gevoel met die baie reën wat uitgesak het, sal dit beter wees om die aksie af te stel. Die honde sou nat gewees het en as hul liggaams tempratuur skielik val kan dit beteken dat hulle siek kan word,” het Meyer gesê.

Die Reddersburg-aksie, sou die laaste projek vir die jaar gewees het, en daar sal nou eers weer op 14 Januarie 2013 met sterilisasie voortgegaan word.

“Ons is hierdie tyd van die jaar baie meer besig as enige ander tyd. Dit is jammer dat ons nie die Reddersburg-aksie kon uitvoer nie, maar ons moes ook aan die diere gesondheid dink,” Aldus Meyer.

Die DBV in Bloemfontein verwag dat nie minder as 600 diere in hul sorg tydens Desember-maand sal beland nie. Verlede maand (November) het hulle 400 diere ingeneem, gevoed en versorg.

“Ons weet almal gaan met vakansie of is reeds weg en dit is dan die diere wat daaronder lei. Ons doen ‘n beroep op troeteldier-eienaars om hul diere in losies hokkie te laat, want daar word hulle minstens versorg.

“Sodra die vakansie verby is, kry ons mense wat na hul diere soek, net omdat daar nie voorsorg getref is met die oppas van diere nie,” het Meyer bygevoeg.

Die Bloemfontein DBV het gevra indien daar iemand is wat kos wil skenk, hulle welkom is om dit te doen, aangesien hulle verwag dat baie meer diere die vakansie gevoed sal moet word.