Gunstige reëntoestande vir die grootste deel van die sentrale binneland word die volgende tien dae voorspel.
Weervoorspeller in die Bloemfonteinse weerkantoor, Tonie Rossouw, sê daar is ‘n verwagte toename van vogtige lug uit die noorde. Buie en donderbuie veral in die noord-oostelike deel van die Vrystaat en Lesotho gaan oor die naweek asook die eerste deel van volgende week voorkom. Dié gebiede kan neerslae van bykans 100mm verwag. Dit gaan ook nat wees in die sentrale deel van die Vrystaat met plekke soos Bloemfontein wat neerslae van tot 35mm kan verwag.
Die somerreënvalstreke kan uitsien na reën in die volgende twee weke. Opvolgreën elke tweede tot derde dag gaan ook voorkom. Die goeie nuus is dat opvangsgebiede soos die Vaaldam en die Vaalrivier-stelsel goeie reën behoort te kry. (VIR DIE WEB: Rossouw sê daar is ‘n 60%-kans op buie en donderbuie Vrydag en Sondag in die sentrale deel van die Vrystaat. Bloemfonteiners kan eerskomende Maandag tot Woensdag ook uitsien na ‘n 60%-kans op reën.
Toestande lyk ook gunstig in die komende dae in Noordwes. Reënneerslae van tussen 30mm en 40mm kan verwag word. Geïsoleerde buie kan die naweek oor die sentrale deel van die Noord-Kaap voorkom. Temperature kan ook ietwat afneem volgende week oor die grootste deel van die sentrale binneland. – Christal-Lize Muller