Reeks konserte om gehore te ontwikkel

0
368
Angelo Mockie, vervaardiger van die AM Creative Arts Series

Bloemfonteinse liefhebbers van die kunste kan gerus hul lippe begin aflek vir ‘n unieke konsertreeks wat daarop gemik is om gehore te ontwikkel en uiteindelik die oorlewing van die kunste in die Rosestad te help verseker.

Die projek is die geesteskind van die plaaslike produksiemaatskappy, Angelo Mockie Productions, en is ‘n vennootskap tussen laasgenoemde, die Windmill Casino en Executive Sound Productions.

Volgens Angelo Mockie, die vervaardiger, is die reeks, wat by die Windmill Casino aangebied sal word, daarop gemik om mense te herinner aan die belangrikheid van die kunste in ‘n moderne samelewing.

“Benewens die bywoning van produksies by die jaarlikse Vrystaat Kunstefees was gehore nog altyd skaars by vertonings van die menigte onafhanklike vervaardigers in die stad. Die koms van die Covid-19-pandemie het boonop die situasie vererger.

“Om verhoogproduksies by te woon, is nie meer hoog op mense se voorkeurlys nie. Dit is presies die situasie wat ons wil verander. Die afgelope jaar was ons hard opsoek na ‘n vennootskap om ‘n langtermynprojek aan te pak waardeur ons gehore kon ontwikkel,” sê Mockie.

Die reeks, getiteld AM Creative Arts Series, sluit agt vertonings in wat maandeliks van April tot Desember 2022 by die Windmill se Diamond Lils en konferensiesentrum aangebied sal word. Alle onderafdelings van die kunste, soos drama, musiek, dans, digkuns asook visuele kunste, sal in die reeks belig word.

Mockie sê een van die hoofdoelwitte van die projek is om gehalte-produksies, waarin Bloemfonteinse kunstenaars optree, op die planke te bring.

“Ons wil diverse gehore ontwikkel om uiteindelik by te dra tot die ekonomiese groei van die stad. Daarom het ons alle kunsliefhebbers, oud en jonk, in ons visier. In ruil vir hul ondersteuning kan die publiek genotvolle vertonings van ‘n hoë gehalte verwag.”

Die eerste vertoning is tydens die Paasnaweek op 15 en 16 April. Dit sal ‘n musiekproduksie wees met ‘n Paastema. Kaartjes vir dié en ander produksies in die reeks is beskikbaar op Quicket asook by www.angelomockieprod.com. Kaartjiepryse wissel per vertoning.

Vir meer inligting, tree in verbinding met Mockie by 072 112 2771.

Pieter Delport

pieterd@mahareng.co.za