Razor klop aan die nasionale deur

0
121
Raynard van Tonder FOTO: MORGAN PIEK

Die voormalige Suid-Afrika-o.19-krieketkaptein en VKB Knights-kolwer, Raynard van Tonder, het vroeg reeds sy stem dik gemaak in die plaaslike seisoen en sy hand opgesteek vir hoër louere. Hoewel die Knights tot dusver slegs twee wedstryde in die 2020/21-seisoen gespeel het, het Van Tonder reeds beïndruk met die wilgerlat.

Tydens verlede week se 179-lopie-sege teen die Warriors in Bloemfontein het Van Tonder sy seisoen goed begin met 85 lopies in die eerste beurt.

Dit was egter hier waar die speler sonder die twyfel die aandag van die nasionale keurders onder leiding van die oud-Protea- en Vrystaat-snelbouler, Victor Mpitsang, moes kry.

Van Tonder het sy vyfde honderdtal van sy loopbaan aangeteken deur 166 lopies teen die Dolphins te moker. Wat die beurt uitsonderlik gemaak het, is die feit dat dit die span in ‘n sterk posisie geplaas het in dié wedsryd. Van Tonder het geduldig gekolf en die bal op meriete gespeel. Tydens die beurt het Van Tonder 285 balle getrotseer en 15 grenshoue gemoker, wat ook twee sesse ingesluit het.

Net meer as ‘n jaar gelede het Van Tonder teen die einste Dolphins in Bloemfontein amok gemaak toe hy in daardie kragmeting 165 lopies geslaan het teen die span van KwaZulu-Natal.

Sy hoogste telling in eersterangse krieket is egter die 250* wat hy in 2018 vir die Vrystaat teen Gauteng aangeteken het.

Vele is van mening dat die oud-Grey binnekort Suid-Afrika in toetskrieket sal verteenwoording, en sy konstante vertoning met die kolf oor die afgelope drie seisoene is iets wat reeds deur die keurders raakgesien is.

Die Knights se kaptein, Pite van Biljon, het aan Bloemfontein Courant gesê dat 22-jarige Van Tonder nog ‘n groot seisoen kan lewer.

“Razor het daar beheer oorgeneem en die boulers aan een kant besig gehou. Hy het deur die dag gekof en ons is in ons nappies daarmee. Ons het almal het regtig goed gekolf, maar Dinsdag was natuurlik sy dag; hy het sy staal getoon en ook ‘n paar mooi houe gespeel.

“Die man is sonder twyfel ‘n groot talent en as hy sy spel kan verander soos wat hy gedoen het, sal hy nog ‘n goeie seisoen hê. Hy kolf baie goed en hopelik kan hy nog meer lopies vir ons aanteken.”

Vir Van Tonder is die vraag egter nie of hy Suid-Afrika op die hoogste vlak sal verteenwoordig nie, maar wanneer. – MORGAN PIEK