Ray Scott en vriende sing gospel in die Dal

0
356
Ray Scott hou op Sondag 2 Junie 'n gospelkonsert in Heidedal.

Die bekende kitaarmeester en sanger van Heidedal, Ray Scott, hou op Sondag 2 Junie 2019 ‘n spesiale konsert om geld in te samel vir sy jongste CD-projek.

Scott, wat gereeld gehore in en om Heidedal sprakeloos laat met sy musikale talent, gaan hierdie keer met verskeie Bloemfonteinse kunstenaars kragte saamsnoer om aan die gehoor ‘n onvergeetlike gospelervaring te bied.

Van die gaskunstenaars wat by dié konsert gaan optree, sluit in Gerald Julies, David Roman, Bishop Lu en die aanbiddingskore van House of Worship en die Pinkster Protestante Kerk in Heidedal.

Scott sê die opbrengs van die konsert sal gebruik word om die opname van sy jongste CD te voltooi. “Ek het drie jaar gelede begin om van my eie gospelkomposisies op te neem. Die projek is byna 70% klaar, maar ek benodig nog heelwat ateljeetyd om dit te voltooi. Ek moet ook nog gaskunstenaars en agtergrondmusikante inbring om die projek af te rond.

“Ek is egter baie dankbaar vir die hulp wat ek sover gekry het. My vervaardiger, Blessing Hanane, het sover uitstekende produksiewerk aan die album verrig. Ek is ook dankbaar teenoor Edward Saunderson, ‘n Heidedalse gemeenskapslid wat die klank vir die projek verskaf,” sê Scott.

Die gospelkonsert word op die eerste verdieping van die Angels Funeral Parlour se gebou in Rembrandtsingel in Heidedal gehou.

Kaartjies kos R50 vir volwassenes en R30 vir kinders onder 12. Vir meer inligting en om kaartjies te bekom, bel Scott by 073-852-3040. – Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za