Rassie maak ‘n draai in die Rosestad

0
555
Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, het tydens sy besoek aan die Toyota Cheetahs aangedui dat die Guinness Pro14 'n belangrike deel van die Springbokke se planne is, veral omdat die spel in dié toernooi baie dieselfde as toetsrugby is. FOTO: MORGAN PIEK

Die Springbok afrigter, Rassie Erasmus, en sy bestuurspan het Dinsdag ‘n draai in die Rosestad gemaak en ‘n franchise-besoek aan die Toyota Cheetahs gebring.

Erasmus is reeds besig met planne vir die verkorte Rugby-kampioenskap, asook die grote vanjaar, die 2019-Rugby Wêreldbeker, wat in Japan sal plaasvind.

Die rede vir die voormalige Springbok-kaptein se besoek was om seker te maak dat die Cheetahs en hul bestuurspan by sy planne met betrekking tot spelers wat op sy radar is, inkoop, asook hoe sekere spelers bestuur moet word. Daar sal ook sekere aspekte van die spel wees waarop Erasmus baie klem sal lê, en dit is belangrik dat die Cheetahs, asook al die ander franchises wat in die Guinness Pro14 en Super Rugby speel, sy mening deel.

Hoewel Erasmus min of meer ‘n idee het van watter spelers saam met hom na die Ooste sal reis, is beserings vir seker ‘n realiteit, veral met die Pro14 wat reeds in ‘n gevorderde stadium is en Super Rugby wat aanstaande naweek afskop. Erasmus het aan Bloemfontein Courant gesê hy hou steeds van die ander Cheetahs-spelers dop en spelers soos die kaptein en skrumskakel is sonder twyfel op sy radar.

“Ons mag dalk nie die Cheetahs so gereeld besoek as wat ons sou wou nie, maar dit is bloot omdat ons eers verlede jaar as ‘n bestuurspan begin het. Natuurlik hou ons die Cheetahs dop en on analiseer ons al hul Pro14-wedstryde. Ek ken die liga siende dat ek lank in die toernooi as ‘n afrigter gedien het. Ek weet dat is posisies twee, vyf, nege, tien en vyftien in die Pro14 moeilik is weens die speeltoesande, die verskillende skeidregterinterpretasies en die ander tipe druk in dié toernooi.

“Dit is regtig ‘n moeilike tipe spel waaraan ‘n speler gewoond moet raak en Shaun Venter is beslis ‘n speler wat ek fyn dophou.

“Ongelukkig is die Pro14 een van daardie toernooie waar mens weet dat ‘n speler wat deurlopend goed vertoon, heel moontlik goed sal vaar in toetsrugby. Aan die ander kant, as ‘n speler miskien in net 50% van sy wedstryde goed vertoon, sal hy sonder twyfel in internasionale rugby sukkel. Dit is omdat die Pro14 soveel anders is as Super Rugby. In die Pro14 gaan dit alles oor taktiese bewustheid en hantering van druk. Ons kyk na al hierdie spelers, maar ons wil konsekwentheid van spelers hê.”

Ander spelers wat Erasmus kan beïndruk is die Cheetahs se haker, Joseph Dweba, die vleuel, Rabz Maxwane, en die stut, Ox Nche.

Dit beteken dat hulle veral tydens die Cheetahs se volgende toer na Ierland en Wallis sal moet uithaal en wys. Die Cheetahs pak Connacht aanstaande Saterdag in Galway. – MORGAN PIEK