Ras wen Grey-straatmyl

0
1020

RUFUS BOTHA

Met bobaas taktiek het die oud-Greyleerling van die Kovsies, Jan-Willem Ras verlede week die wedloop vir seniormans by die jaarlikse Sportsmans Warehouse en Van Rensburg Patoloë se Hoërskool Grey-kollege straatmylbyeenkoms sy eie gemaak.

Die byeenkoms is vir die 18de jaar agtereenvolgens aangebied.

Ras, wat ook vir die Vrystaatse hokkiespan (senior) diens doen het oor die laaste 100 m van die wedloop die krane behoorlik oopgedraai en in 4:17 geseëvier. Hy het sy Kovsiespanmaat, Khothatso Mokone (4:20) met drie sekondes in die tweedeplek ingedwing. Xolani Loni (SUT, 4:22) het in ‘n mooi derdeplek oor die eindstreep gehardloop.

Dié drie manne se tye skiet egter ver tekort indien jy dit vergelyk met die byeenkomsrekord van die Suid-Afrikaanse 1500 m- en myl- (baan) rekordhouer, Johan Cronjé se 4:04.  

Kesa Molotsane (Kovsies) is na ‘n hele klompie jare se atletiek-sukkeltog besig om ‘n skielike opwaartse kurwe te beleef wat binnekort die land se voorste vroue middel- en langafstandatlete deeglik van haar gaan laat kennis neem.

Molotsane (23 jaar), wat nege jaar gelede as o.14-atleet reeds vir die Suid-Afrikaanse skolespan diens gedoen het in die o.17-ouderdomsgroep (1500 m) het die vrouewedloop met die grootste gerief gewen. Sy is in 5:05 oor die eindstreep en sy was ongeveer 100 m voor haar naaste teenstaanders in die seniorafdeling, Rizani van Aswegen (Kovsies, 5:26) en Claire Cronjé (Kovsies, 5:28).

Die vrouewedloop is saam met die veterane vroue (35 tot 44 jaar) beslis en die voormalige Suid-Afrikaanse o.17 kampioen in die 1500 m, die 38 jarige Teresa Richards (Kovsies) het algeheel in die tweedeplek met ‘n haastige tyd van 5:21 geeindig.

Sonet Nicolaisen (Individueel, 6:01) het die meesterswedloop (45 jaar plus) vir vroue gewen. Die veteranewedloop vir mans (40 – 49 jaar) is gewen deur Nicolas Theron (Individueel) in ‘n haastige 5:09 terwyl Adri Vermaas die meestersafdeling vir mans in 5:48 sy eie gemaak het.