Die dierewelsynsorganisasie Huistoe se Tanya Badenhorst het met Bloemfontein Courant gesels oor die belangrikheid daarvan om dieremishandeling aan te meld.
Sy doen ‘n beroep op plaaslike inwoners om dieremishandelingsake by die plaaslike DBV aan te meld, in hierdie geval sal dit die Bloemfonteinse DBV wees wat kan help met die reddingspoging en verwydering van die verwaarloosde dier.
“Honde word dikwels gevind waar hulle vasgeketting is sonder enige kos of water, of enige skuiling, ” het sy gesê.
Sy het bygevoeg dat hierdie honde dikwels nie gesteriliseer is nie en in hondegevegte betrokke was. Soms kan die eienaars nie bekostig om hulle na ’n veearts te neem vir behandeling nie en word hulle met ernstige wonde gelaat om te sterf.
Badenhorst het verder ’n paar voorvalle uitgelig waar die dierereddingspan van Huistoe-Bloemfontein met gru-tonele van verwaarlosing en mishandeling begroet is.
“Dieremishandeling kom voor wanneer ons nié ons alledaagse verantwoordelikhede nakom nie. Deur nie jou dier te voer of elke dag van skoon water te voorsien nie, kwalifi seer as dieremishandeling. Dit raak diere in alle gevalle aangesien dit uiterste lyding veroorsaak,” het sy gesê.
Sy het beklemtoon dat aangesien sommige honde in hondegevegte gebruik word terwyl ander as lokaas gebruik word, is rehabilitasie vir hierdie diere in sommige gevalle onmoontlik.
“Uitreikwerk kos sowat R6 000 per geval – dit is slegs om een of twee gebiede in die landelike dele van die Vrystaat, soos Dewetsdorp, Reddersburg ens., te bereik. Tans is ons veeartsrekening R24 000 en ons kan nie die publiek bystaan met veeartssorg vir diere in nood nie,” het sy gesê.
Skenkings en bystand van die publiek help wel met hul uitreikwerk, maar met so baie nood, neem hul uitgawes skerp toe.
“Ons uitreikprogramme is nie baie suksesvol sonder fondse nie. Dit is ’n groot probleem aangesien die behoeftes in hierdie gebiede groot is. As ons nie vir hulle omgee nie, wie sal?”
Plaaslike inwoners wat bereid is om die organisasie te help om meer diere regoor die stad te red, is welkom om hul Facebook-blad te volg vir meer inligting of die DBV by 051-447-3801 te kontak om gevalle van dieremishandeling aan te meld.
“Moet asseblief nie doekies omdraai met dieremishandeling nie. Wees die stem vir die stemloses,” het Badenhorst gepleit
Gypseenia Lion