Quewin Coetzee weer agter tralies

0
914

Owen Kock

Bloemfontein. – Quewin Coetzee, die vermeende moordenaar wat verlede maand uit die Grootvlei-gevangenis buite Bloemfontein ontsnap het, is weer aangekeer. Volgens Vrystaatse polisiewoordvoerder, Harry Nagel is die 31-jarige Coetzee in Thembisa opgespoor.

“Die Valke van Bloemfontein het Coetzee gisteraand omstreeks half-elf in Thembisa aangekeer na hulle ingelig is oor waar hy hom bevind. Hy sal Maandag in die hof verskyn,” het Nagel bygevoeg.

Coetzee word in Mei vanjaar verhoor weens die moord op sy swanger meisie, Celeste Fraser-Carson, in Februarie verlede jaar. Hy het haar na bewering met slaappille bedwelm en haar in ‘n vlak graf 30km buite Bloemfontein begrawe.

Hy is reeds verskeie male borgtog geweier. Coetzee het na bewering op 22 Maart ‘n vervalste vorm wat borg toestaan, by die Bloemfonteinse Landdroshof laat indien. Sy suster het glo die R4 000 borgtog betaal, waarna hy vrygelaat is.

Owerhede het kort daarna hul fout agtergekom, en die Valke het ‘n grootskaalse soektog na hom gelas.