Protea en oorsese skuts slaags in SA Bisley

0
Protea en oorsese skuts slaags in SA Bisley

GEORG VAN ECK

’n Groot internasionale skietkompetisie met grootgewere, die Suidelike Internasionale Uitdaagwedstryde wat die jaarlikse Suid-Afrikaanse Bisley-skietkampioenskap voorafgaan, sal verseker dat die top- Suid-Afrikaanse skuts van more af deeglik op die Genl. De Wet-skietbaan buite Bloemfontein beproef word. Die 77ste Suid-Afrikaanse Bisley begin Saterdag en duur tot 13 April. Soos gewoonlik sal ’n Protea-span met agt skuts in die Amerikaanse wedstryd teen ’n internasionale span te staan kom. Daar is ook ’n Suid-Afrikaanse span van 12 skuts vir die RSA Internasionale kragmeting en ’n Suid-Afrikaanse junior span van sewe skuts gekies wat aan die Southern Junior Internasionale wedstryd sal deelneem.

Gewoonlik ding die Junior Proteas ook teen die Britse junior span mee en Britse skuts wat al as Suid-Afrikaanse kampioene gekroon is, John Underwood en David Calvert, sal in aksie wees. Met die Suidelike Uitdaag behoort daar ook topskuts van Australië en Nieu-Seeland in askie te wees. Die F-klas-wêreldkampioenskap word ook op die Genl. De Wet-skietbaan beslis.
Vroue ding soos gebruiklik om die Norma Seffert-trofee mee en hier kan ’n Suid-Afrikaanse skut soos Natie du Plooy sterk teenstand van Jane Dyer van Australië verwag.

Hoewel die provinsiale en internasionale spankompetisies uitstekende vertonings oplewer, is dit die individuele vertonings wat die saamtrek van topskuts gewoonlik aan die praat het.  Daar word in verskillende dissiplines: Grootgeweer (.308), F-klas Ope (tot 8mm), F-klas Teikengeweer asook .303-gewere meegeding. Gewoonlik is die beste swartkruitskuts van Suid-Afrika ook tydens die Bisley in aksie.

Vir Suid-Afrika is daar uitmuntende skuts, soos verlede jaar se Presidentsbeker-wenner Tielman Breedt (Noordwes), asook voormalige nasionale kampioene soos Arno Haasbroek en André du Toit (albei Gauteng) om op staat te maak. Van die ander SA skuts wat hul merk kan maak, is Vrystaters Alexander Coetzee en Peter Bramley asook skuts soos Edwardt Stignant, Andries Möller, Johan Maritz, Robert Hayter, Pieter Welgemoed, Johan du Toit en Neels Jonck. Daar word om verskillende gesogte trofeë soos die Skotse Swaard, Bramley-ketting, Dewar-skild, Hamiltonbeker, Genl. Koos de la Rey-trofee en vele meer oor afstande van 300 tot 900 meter meegeding.

No posts to display