Propvol week vir smulpape!

0
Propvol week vir smulpape!

Kos, kookprogramme, resepteboeke en tegnieke het die afgelope paar jaar van sjefs, wie se meesterstukke vantevore wonderbaarlik uit die kombuis verskyn het, bekendes gemaak.
Ons almal het deesdae ‘n gunsteling-sjef wie se kooktegnieke en -metodes in ons eie huise geoefen word tot ons self soos ‘n wafferse Jamie of Nigella daar rondwals.
Plaaslike sjefs soos Chris Greeff en Magda Johnstone het onlangs bekendheid verwerf in die kykNET-kookprogram, Kokkedoor.
Hoewel ‘n paar gelukkige Bloemfonteiners onlangs die geleentheid gehad het om die kookwerk van Greeff en ‘n paar ander finaliste in die program se tweede reeks te ervaar, is daar talle kosliefhebbers wat dié geleentheid misgeloop het. Maar moenie bekommerd wees nie! Vanjaar se Vryfees bring talle aanbiedings spesiaal gemik op smulpape.
Sjef Nic van Wyk en die wenners van Kokkedoor 2, Kapenaar Johnny Hamman en Vrystater Elsa Buys, tesame met die naaswenners, Bloem se eie Chris Greeff, en Marius Uys van Gordonsbaai, kook op 16, 17, 18 en 20 Julie ‘n opwindende Kokkedoor Verskyn en Verdwyn-ete by Olive Sjefskool, Woodlands Function Venue. Aandetes word om 18:30 bedien. Daar is ook ‘n Sondagmiddagete om 12:00. Die koste is R320 vir ‘n vyfgangete vergesel van Du Toitskloof-wyn en ‘n Kokkedoor-geskenkpak. Vir meer inligting, besoek die Kyknet Kokkedoor Facebook en webtuiste, asook www.nicvanwyk.co.za. Bespreek by info@kokkedoortv.co.za of skakel 084-584-4456.
In Koskaskenades met Tannie Magda van Kokkedoor by vanjaar se Vryfees, wakker Magda Johnstone, Bloem se finalis in die eerste Kokkedoorreeks, die jongspan se liefde vir kosmaak aan met kreatiewe en leersame sessies! Interaktief en vol vermaak beloof dit om hope pret te wees. More se supersjefs moenie hierdie een misloop nie! Die jongspan kan dit van 17 tot 19 Julie, met twee sessies per dag om 10:00 en 14:30, bywoon. Kaartjies kos R100 per kind en dit is slegs vir kinders bo 10 jaar. Kaartjies is beskikbaar by Computicket.
Op 16 Julie om 13:00 vind ‘n diskoers met skrywers Riana Scheepers, Marita van der Vyver en RSG-Huiskok Errieda du Toit plaas. Hier word bespreek waarom kookboeke en TV-programme oor kos so gewild is? Hoe lyk die gemiddelde leser/kyker – beginnerkok vir basiese resepte, oorwerkte moeder vir vinnige en maklike resepte, of ervare kok wat kinkels wil byvoeg? Koop die gemiddelde leser so ’n boek vir die leeservaring, omdat die skrywer bekend is, vir die koffietafel se versiering of die snobwaarde daarvan, of regtig vir die resepte? Indien vir laasgenoemde, hoeveel lesers beproef werklik ’n verskeidenheid resepte, of maak hulle maar een of twee gunstelinge oor en oor? As mense regtig "kook en geniet", hoekom het hulle dan so baie boeke nodig? Jy kan omtrent enige resep Google en wat van self ’n bietjie eksperimenteer? En TV-programme? Gaan dit oor die idees vir resepte of die vermaakwaarde? Dit is gratis om die gesprek by te woon en dit duur 120 minute. Dit vind plaas in Volksblad se deli-en-kuierarea in Sonnedou-gazellie.
Wanneer jy genoeg tyd het, vat die spoor na Tjil, Volksblad se koshemel vir feesgangers. Koop hier wat jy wil koop, eet wat jy wil eet en merk dan Donderdag, Vrydag en Saterdag 19:00 op jou dagprogram, skryf Elretha Britz. Donderdagaand tree Laurie Levine hier op, met Peter Mitchell Vrydagaand, en Luna Page Saterdag. Volksblad Tjil is in Sonnedou en Huis Koos se gazellies en bied tuisgemaakte kosprodukte. ’n Kaartjie (R100) om na die sangers te luister moet bespreek word by simon@spottedapple.co.za, of 051-447-1086, of 082-072-1143. Vertonings begin om 20:00.Toegang bedags is gratis.

No posts to display