Die Raad van die Universiteit van die Vrystaat (UV) het tydens sy eerste vergadering van die jaar, wat op Vrydag 14 Maart 2014 op die Bloemfontein-kampus gehou is, besluit dat prof. Jonathan Jansen vir ‘n verdere termyn as visekanselier en rektor aangestel word.
Prof. Jansen is op 1 Julie 2009 in hierdie pos aangestel. Sy termyn sal met ingang 1 Julie 2014 vir ‘n verdere vyf jaar verleng word.
“Prof. Jansen se visie vir die toekoms van die UV stem ooreen met dié van die raad. Hy het die universiteit suksesvol deur ‘n moeilike tydperk gelei en sy vermoë om mense van verskillende agtergronde bymekaar te bring het ‘n groot verskil gemaak in die manier waarop die instelling nasionaal en internasionaal beskou word. Ons is dankbaar dat sy dienste vir ‘n verdere termyn behou kan word en sien uit daarna om saam met hom te werk,” het regter Ian van der Merwe, voorsitter van die raad, gesê.
Prof. Jansen het gesê hy voel geëerd en dankbaar dat ‘n tweede termyn aan hom toegestaan is. “Ek sal selfs harder werk om akademiese uitnemendheid te bevorder en menslike verhoudinge by hierdie wonderlike instelling te verbeter," het hy gesê.
Die termyn van die visevoorsitter van die raad, mnr. Edward Kieswetter, is ook tydens die vergadering vir ‘n verdere drie jaar verleng. Mnr. Kieswetter, Groeps- Uitvoerende Hoof van Alexander Forbes Equity Holdings (Mpy) Bpk, is sedert November 2004 ‘n lid van die raad. Dit sal sy derde termyn as visevoorsitter wees.
Date: