Pretorius slaggereed vir die CPL

0
918
Die Itec Knights snelbouler, Migael Pretorius, hou ook 'n gevaar in met die wilgerlaat. Die 26-jarige speler weet hoe om groot sesse te moker. FOTO: BACKPAGEPIX

Die snelbouler van Itec Knights, Migael Pretorius, verwelkom die uitdaging wat voorlê wanneer hy later vandeesmaand in die Karibiese Premierliga van 2021 speel.
Pretorius, wat al vir ‘n geruime tyd aan die deur van die nasionale span geklop het, is een van ses Suid-Afrikaners wat in die toernooi sal speel, terwyl die ander almal Proteaspelers is.

Die ander Suid-Afrikaners wat in die glans-T20-toernooi hul stem sal dik maak, is Rassie van der Dussen, Faf du Plessis, Imran Tahir, Chris Morris en Anrich Nortjé.

Pretorius sal vir die Jamaica Tallawahs speel en ‘n ingeligte bron het aan Bloemfontein Courant bevestig dat die speler geoormerk is vir ‘n groot rol in die span.

‘n Voormalige Knights-speler, André Russel, sal ook in aksie wees vir die Tallahwahs. Die veelsydige Wes-Indiese nasionale speler het jare gelede in Bloemfontein vir die Knights gespeel en ‘n massiewe invloed op die span gehad met sy positiewe gesindheid.

Pretorius het aan Bloemfontein Courant gesê hy sien uit na die uitdaging om vir die Tallawahs te speel.

“Dit is a goeie toernooi en ek dink nie dat baie van die jonger spelers die geleentheid kry om daar te speel nie. Vir my is dit ‘n groot plus en hopelik kan ek soontoe gaan en bewys wat ek wil bewys.

“Daar is groot name wat aan die toernooi sal deelneem en daar is baie wat ek by hierdie spelers kan leer. Ek het nog nie voorheen in die toernooi gespeel nie en dit is iets nuuts vir my. Dit is ook ‘n goeie ding, want ek geniet nogal sulke situasies en ek streef daarna om deel te neem.

“Dit sal baie lekker wees. Daar sal baie goeie spanne en spelers wees. Ek het al vantevore teen van hulle gespeel, maar natuurlik nie in die toernooi nie.”

Die CPL T20 van 2021 duur van 26 Augustus tot 15 September en 33 wedstryde sal in Saint Kitts en Nevis gespeel word. –  MORGAN PIEK