Pretorius nog nie klaar met die Proteas nie

0
434
Karla Pretorius aan die beurt vir Suid-Afrika tydens die 2023 Netbal Wêreldbeker in Kaapstad. FOTO: NETBAL SA

Die Vrystaat- en Proteas-netballegende, Karla Pretorius, het bevestig dat sy nog nie heeltemal gereed is om uit die sport te tree nie.

Verlede jaar het Pretorius aangedui dat sy haar opsies sal oorweeg ná ‘n glansloopbaan vir Suid-Afrika, waartydens sy op die hoogste vlak vereer is toe sy in 2019 aangewys is as die Speler van die Toernooi tydens die Netbalwêreldbeker in Liverpool, Engeland. Die 33-jarige Pretorius het dit sterk oorweeg om uit te tree, maar ná afloop van ‘n goeie blaaskans is sy egter gereed om voort te gaan om haar rol vir Suid-Afrika te speel, wat nou meer as ooit tevore belangrik sal wees.

Onlangs het twee hoogs ervare spelers – die voormalige kaptein Bongi Msomi asook Phumza Maweni – hul uittrede aangekondig. Die twee senior spelers laat ‘n groot leemte in die span, en dit is nou waar Pretorius nog meer waardevol as speler en leier sal wees.

Pretorius het aan Bloemfontein Courant gesê sy gaan voort om Suid-Afrika te verteenwoordig tydens die nasionale span se oorgangsfase.

“Verlede jaar was nogal ‘n besige en moeilike jaar in terme van netbal en teen die einde was ek baie moeg en het gedink of ek moet aanhou speel of nie,” sê Pretorius.

“Maar ná ‘n lekker ruskans en nadat ek alles in perspektief geplaas het, het ek besluit ek kan nog ‘n bietjie aanhou en ek sien baie uit daarna.

“Omdat ek ook weet dat twee topspelers in Phumza Maweni en Bongi Msomi uit netbal getree het, dink ek dit het ‘n rol gespeel – ons wil nie hê dat al drie senior spelers en gevestigde lede van die groep dit gelyktydig moet verlaat nie. Ek sou jok as ek nie sê dit het ‘n rol in my besluit gespeel nie. Ek sien uit na vanjaar om te sien waarheen dit my sal neem en ons as ‘n span sal neem.”

Die Proteas sal ook vanjaar ‘n nuwe afrigter aanwys nadat die Australiër, Norma Plummer, se ampstermyn tot ‘n einde gekom het. – MORGAN PIEK