Pretorius en Le Cyrus verbeter twee rekords in Parys

0
166
Michelle Pretorius toe sy in 2019 nasionale kleure gewerf het tydens die Vrystaat Western Mounted Games-kwalifiseerder in Parys. FOTO: HDXION PICS

Die 22-jarige Michelle Pretorius en haar perd, Le Cyrus, het verlede Saterdag tydens ‘n Vrystaat Western Mounted Games-kwalifiseerder in Parys haar stem dikgemaak deur twee Vrystaat-rekords te breek.

Dié sport toets ruiters se vermoë om met hul perd te kommunikeer en as ‘n span saam te werk en sluit ‘n totaal van dertien dissiplines waarin die ruiters kan meeding, in. Potgieter en haar perd het aan vyf van die dissiplines deelgeneem, naamlik “Big T”, “Hurry Scurry”, “Two Poles”, “Speedball” en “Speedbarrels”.

Dit was in die “Big T” en “Speedbarrel” waar Pretorius presteer het en twee rekords verbeter het.

In die “Big T” het die rekord, wat in 2018 opgestel is, op 15.356 sekondes gestaan, dit is nou verbeter na 15.209 sekondes.

Pretorius se tweede rekord is behaal in die “Two Poles”-item waar sy spog met ‘n nuwe tyd van 22.503 sekondes agter haar naam. Die vorige rekord het op 22.818 sekondes gestaan.
Die kranige ruiter het aan Bloemfontein Courant gesê ruiter en perd moet soos een werk en ‘n splitsekonde is die verskil tussen wen en verloor.

“Die sport gaan alles oor jou en jou perd as ‘n span. Alles is teen tyd en splitsekondes bepaal die plasings tussen die ruiters.

“Ek het twee rekords wat in 2018 opgestel is, die naweek gebreek. Ek het twee perde gery, een op vlak drie en die ander een op vlak vier. Die perd waarmee ek die rekords gebreek het, was my vlak-vier-perd, Le Cyrus.”

“Ek het ook in 2019 Suid-Afrikaanse span gehaal wat vanjaar internasionaal gaan deelneem. Ons kon nie velede jaar ons Elite-byeenkoms hou nie, aangesien alles weens Covid-19 uitgestel was.”

Vanjaar se Elite-byeenkoms, waar ruiters en perde van verskeie lande sal meeding, word vir Junie/Julie beplan en sal ook in Parys plaasvind. – MORGAN PIEK