Die Bloemfonteiner, Ruan Pretorius, is die afgelope naweek vereer deur die beste gholfspeler wat die wêreld nog opgelewer toe hy die Jack Nicklaus-eerbewys ontvang het tydens die Memorial-gholftoernooi by die Muirfield-gholfklub in Dublin, Ohio.

Die 81-jarige en 18-malige major-kampioen, Jack Nicklaus, het persoonlik die eerbewys aan Pretorius oorhandig, asook aan die ander divisiewenners in Amerikaanse universiteite-gholf.Die eerbewys word toegeken aan die topspelers in divisie een tot drie asook op NAIA- en NJCAA-vlak.

Pretorius, wat aan die Point University in Georgia studeer het, was die wenner van die NAIA-divisie. Hy gaan egter in Augustus aan die Mississippi State University swot, en dié instelling se gholfspan speel in die eerste divisie.

Pretorius het ná die Memorial-toernooi aan Bloemfontein Courant gesê dat dit ‘n spesiale ervaring was om die ‘Goue Beer’ te ontmoet en dat hy nou nóg ‘n groter ondersteuner van die legende is.

“Nie almal kry so ‘n geleentheid nie, en ek is net baie dankbaar vir die kans. Sy nederigheid is opvallend as mens in sy teenwoordiheid is.

“Soos ons almal weet, hy is een van die beste gholfspelers ooit.

“Noudat ek hom ontmoet het, besef ek hy is een van die coolste mense met wie ek nóg kennis gemaak het en hy is nogal baie skerp op sy ouderdom.”

Pretorius is die seun van die oud-Vrystaat-snelbouler, Nico Pretorius. Hy het direk ná skool sy Sonskynreeks-toerkaart verdien en vir ‘n wyle in die reeks gespeel voordat hy ‘n beurs ontvang het om in Amerika te studeer en te speel. – MORGAN PIEK