Pretorius aangewys as kaptein doer-onder

0
89
Karla Pretorius FOTO: GETTY

Die netballegende van die Vrystaat en Proteas, Karla Pretorius, is aangewys as kaptein van haar span in Australië. Dié sterspeler sal die Sunshine Coast Lighting gedurende die komende seisoen aanvoer. Die 31-jarige kry die leierskaprol nadat sy deur die afrigtingspan en haar spanmaats tot die rol verkies is.

Pretorius sê dat dit ‘n groot eer is om as die kaptein aangewys te word.

“Hierdie klub het ‘n spesiale plek in my hart en ek voel geërd om so ‘n ongelooflike groep mense aan te voer,” het Pretorius gesê.

“As ‘n span is dit belangrik dat almal gehoor word, dat hulle waardeer word en dat ons ‘n omgewing skep waar almal na hul beste vermoë kan presteer. Dit is hoe ek my rol sien.”

Die afrigter van die Sunshine Coast Lighting, Kylee Byrne, is van mening dat Pretorius ‘n natuurlike keuse is om die span aan te voer.

“Karla het ‘n fenomenale paar jaar gehad, maar ek het haar ook gesien as ‘n leier en sy het haar stem gevind.

“As speler en persoon kry sy die onmiddellike respek van diegene rondom haar en verdien sy meer as die kapteinskapsrol.”

Pretorius en die Sunshine Coast Lighting begin hul seisoen op 1 Mei teen die Collingwood Magpies. – MORGAN PIEK