HORACE TERRY
Die laaste paar weke het ons gesien hoe die JSE Algehele Indeks telkemale nuwe rekordvlakke bereik. Die laaste 12 maande lyk die Algehele Indeks ook heel skaflik.
In die begin van 2012 het ek in een van my rubrieke geskryf dat die belegger wat vir 2012 sy belegging takties reg gaan diversifiseer, oor alle bateklasse heen, die vrugte gaan pluk. Kom ons kyk bietjie na ’n paar interessante syfers van die afgelope 12 maande, asook 2012 tot dusver.
Eerstens, is gelyste eiendom weer die top presteerder. Gelyste eiendom se opbrengste oor die laaste 12 maande was 29.03%, en vir 2012 tot einde September reeds 22.08%. Oor die laaste 12 maande kom buitelandse aandele tweede, met 24.81%, en 15.49% vir die jaar tot einde September. Plaaslike aandele lê derde met 24.43% oor die laaste 12 maande, en 14.81% vir die jaar tot einde September. In die vierde plek is dit effekte met ’n opbrengs van 17.04% oor 12 maande en 13.07% vir die jaar tot einde September. Kontant het heeltemal uit die bus geval met ’n opbrengs van 5.64% oor die laaste 12 maande, en slegs 4.19% vir die jaar tot einde September. Inteendeel kontant presteer vir die jaar tot September onder die inflasiekoers van 4.25%.
Nou hoewel die markte tans goed lyk, is daar steeds heelwat onsekerheid wêreldwyd
teenwoordig, in Suid Afrika ook. Ons kan maar net na die laaste tyd se stakings en meegaande geweld kyk, en die beeld wat dit van Suid Afrika uitstraal om ons bekommerd te maak. So onsekerhede gaan daar altyd wees, daarom die aanbeveling van ’n gediversifiseerde portefeulje.
Nou gegewe die bogenoemde opbrengssyfers, en inaggenome dat die meerderheid beleggers versigtig is, moes ’n goed gediversifiseerde beleggingsportefeulje vir jou opbrengste gegee het van ten minste 13-18% oor die laaste 12 maande, na gelang van jou blootstelling aan risikobates. Indien jy nie die opbrengste gekry het nie, moet jy na jou taktiese bate-allokasie gaan kyk, en waarskynlik ’n aanpassing of twee maak vir die toekoms. Ek het ’n interessante diagram wat die opbrengste van die verskillende bateklasse oor die laaste tien jaar uitbeeld. Indien jy daarin belangstel, stuur ’n e-pos stuur na horace@jenwil.co.za.
Date: