Presidente en hul toesprake

0
256
Former US Presidential Candidates John F Kennedy (L) and Richard Nixon. Photo: Metro US

Almal ken die name van John F. Kennedy, Richard Nixon, Jimmy Carter, Ronald Reagan, George Bush en Bill Clinton.

Maar weet jy wie is Ted Sorenson, Ken Khachigian, Chris Matthews, Peggy Noonan, Tony Snow en Michael Waldman? Hulle was maar net enkele van die toespraakskrywers wat hierdie Amerikaanse presidente laat goed klink het.

In die ou dae, voor elektroniese media, kon ’n staatshoof nog wegkom met ’n self-saamgeflansde, flou toesprakie. Maar met die koms van radio en televisie was die skrif aan die muur. Nou moes politieke kandidate ten aanskoue van die massas alles in die stryd werp om beter te klink en te lyk as hul opponente. En so het die deure wyd oopgeswaai vir hierdie nuwe spesie, die sg. “speechwriter”.

John F. Kennedy se toespraak tydens sy inhuldiging op 20 Januarie 1961 het beroemd geword as gevolg van een sinnetjie: “And so, my fellow Americans, ask not what your country can do for you. Ask what you can do for your country”. Kennedy het wel self hierdie woorde in sy inhuldigingsrede ingevoeg, maar dit was nie sy eie skepping nie. Van sy ou skoolmaats het na die tyd beweer dat dit blatante plagiaat was. Hulle skoolhoof het hierdie presiese uitdrukking glo jare tevore gereeld gebruik toe hulle saam met die jong Kennedy op skool was in Connecticut.

Winston Churchill was ’n groot uitsondering. Hy was ’n woordmeester wat al sy toesprake self geskryf het. Hy sou wel vriende en kennisse om menings vra en was bereid om na kritiek te luister. Maar elke weloorwoë woord uit sy mond, woorde wat die Britte gedra en opgelig het tydens die Tweede Wêreldoorlog, was sy eie.

In die moderne era het dit onmoontlik geword vir ’n staatsman om elkeen van sy toesprake self te skryf. Selfs pres. Nelson Mandela het van toespraakskrywers gebruik gemaak. Maar Madiba se aangrypende woorde tydens die Rivonia-verhoor in 1964, oor demokrasie en vryheid in Suid-Afrika, en oor sy stryd teen wit én swart dominasie, was sy eie: “It is an ideal for which I am prepared to die”.

Albé Grobelaar