‘n Nuwe eksperimentele openbare kunsvorm sal op die Bloemfontein-kampus te sien wees tydens die Vryfees.
Die meeste monumente in postkoloniale lande vier kenmerkend mans se prestasies in diens van hul volk. Dit is beslis die geval met Suid-Afrikaanse historiese standbeelde.
Tog is die geskiedenis – eerder as gegiet in klip of brons – eintlik smeebaar, plooibaar, soos plastiek, as mens dit so kan stel. Ons vorm en plooi gedurig die geskiedenis volgens ons herinneringe en ons nuwe kennis oor die verlede.
Plastic Histories, deur die Australiese kunstenaar Cigdem Aydemir, is ‘n openbare kunsprojek wat ons aanmoedig om openbare monumente in hulle historiese konteks te evalueer en uit alternatiewe perspektiewe te herwaardeer. Dit is ‘n openbare erkenning van die bydrae van vroue van alle rasse, gemeenskappe en seksuele oriëntasie, tot die grootse verhaal van ‘n postapartheid-Suid-Afrika.
In Julie 2014, sodat dit saamval met vanjaar se Vryfees-kunstefees, sal Aydemir die monumente van president Steyn en president CR Swart op die Bloemfontein-kampus fisiek – in pienk plastiek – vakuumverpak. Deur die monumente op hierdie wyse voor te stel, verwys Aydemir na hulle betekenis en bewaring, aangesien vakuumverpakking gewoonlik met die bewaring van voedsel verbind word. Terselfdertyd lê dit egter die aard van hulle omstrede en geslagtelike historiese doel bloot.
Aydemir is ook besig met die ontwikkeling van ‘n toepassing (app) in samewerking met die Australiese kunstenaar Warren Armstrong. Dit sal gebruik word vir die uitgebreide realiteitsbesigtiging van drie monumente in die stad – dié van president Brand, generaal De Wet en generaal Hertzog. Dit beteken dat besoekers ‘n slimfoon of iPad voor die monumente sal kan hou en die monumente sal sien asof dit in pienk plastiek vakuumverpak is. Saam met die openbare kunsprojek sal daar ‘n uitstalling van digitaal-gemanipuleerde foto’s van negentiende-eeuse en hedendaagse monumente van mans in Bloemfontein wees. Hierdie foto’s sal van 15 Julie tot 1 Augustus 2014 by die Johannes Stegmann-galery in die UV-Sasol-biblioteek uitgestal word.
Openbare toere van die Bloemfontein-kampus en die stad sal plaasvind op: Dinsdag 15 Julie om 11:00, Woensdag 16 Julie om 14:00 en Saterdag 19 Julie om 11:00.
Aydemir se Plastic Histories openbare kunsprojek vorm deel van die UV se Program vir Innovering-en-kunsvorm-ontwikkeling (Piko) en die Vryfees-kunstefees se vennootskap met die Australies-gebaseerde SituateArt in Festivals-inisiatief. Hierdie vennootskap word bestuur deur die Salamanca-kunssentrum in Tasmanië.