Pravin Gordhan moedig jou aan om te spaar

0
Pravin Gordhan moedig jou aan om te spaar

Horace Terry

In die onlangse begrotingsrede het die Minister van Finansies, Pravin Gordhan, weer verwys na die voorgenome herstrukturering van die bedeling op aftreefondse in Suid-Afrika. Daar is ’n paar aanpassings gemaak aan die voorgenome veranderinge sedert die 2012 Begrotingsrede. Die meeste van die aanpassings behoort teen 1 Maart 2014 effektief te wees. In breë trekke kan lede van pensioen-, voorsorg- en/of uitree-annuïteitsfondse die volgende verwag:
Eerstens gaan die bydraes wat jou werkgewer tot jou aftreefonds maak as ‘n byvoordeel hanteer word en gevolglik belasbaar wees. Met ander woorde, jou belasbare inkomste gaan verhoog, alhoewel jy nie meer geld in jou sak gaan kry nie. Tweedens gaan jy toegelaat word om 27.5% van jou belasbare inkomste of besoldiging (afhangende van watter een die grootste is), by te dra tot aftreefondse en te benut as ’n belastingaftrekking. Dié bydrae sal vir belastingaftrekkingsdoeleindes beperk word tot R350 000 per jaar. Derdens sal enige bydraes wat teen aftrede nog nie as aftrekkings benut is nie, teen die aftreevoordele verreken word. Meer duidelikheid hieroor behoort nog gekommunikeer te word. Vierdens bepaal die wet dat lede van pensioenfondse en uittree-annuïteite by aftrede slegs ’n maksimum van een derde van hulle fondsvoordeel as ’n enkelbedrag mag onttrek. Die beperking is nie tans van toepassing op voorsorgfondse nie, maar daar word voorgestel dat dit ook na voorsorgfondse uitgebrei word. Dit blyk egter dat alle gevestigde regte beskerm sal word, en ook dat dit nie van toepassing sal wees op lede van voorsorgfondse wat ten tyde van implementering ouer as 55 is nie. Vyfdens word daar voorgestel dat enige onttrekkings wat lede voor aftrede uit hulle aftreefondse maak, bewaar moet word en dat dit nie in kontant geneem kan word nie. Dié voorstel sluit enige verdelings as gevolg van ’n egskeiding in. Hierdie is die huidige voorstelle wat gemaak is rakende aftreefondse, maar natuurlik kan daar nog veranderinge plaasvind voor die finale implementeringsdatum. Voor jy egter enige besluite rakende jou aftreefonds/e neem, word dit sterk aanbeveel dat jy eers ’n gekwalifiseerde finansiële beplanner raadpleeg.

* Terry is ‘n gesertifiseerde finansiële beplanner en beleggingsadviseur by Jenwil Blouster.

No posts to display