Pote groet die Shimlas

0
272
Pote Human FOTO: BLUE BULLS COMPANY

Die Universiteit van die Vrystaat Shimlas sal vir aanstaande jaar se Varsitybeker-reeks ‘n nuwe afrigter hê om die span te slyp.

Die huidige breier, Pote Human, se kontrak in Bloemfontein het verstryk en hy is op pad na die VSA om sy loopbaan as afrigter voort te sit.

Human het in Oktober verlede jaar by die Shimlas aangeluit toe hy die leisels by die voormalige Springbok-  en Cheetahs-flank, Henco Scholtz, oorgeneem het.

In dié stadium is dit nog onbekend by watter span hy in Amerika gaan werk.

‘n Ingeligte bron het aan Bloemfontein Courant genoem dat die proses om Human se opvolger aan te stel reeds begin het, en in dié stadium kan André Tredoux heel moontlik ‘n terugkeer maak na die Rosestad.

Tredoux het vanjaar die Nelson Mandela Universiteit Madibaz vir die Varsitybeker geslyp. Hoewel die span van die Baai gesukkel het en nie een van hul nege wedstryde gewen het nie, het hulle by tye van die groter spanne probleme gegee op die veld.

Tredoux is ‘n ou bekende by Shimlas-rugby en het voorheen die junior spanne met groot sukses geslyp.

Dit is egter nog nie bevestig dat Tredoux ‘n terugkeer sal maak na die Shimlas nie.

* In die 24 Julie 2021 weergawe van die Bloemfontein Courant was daar geskryf dat die Shimlas vanjaar die Stadsbeker gewen het. Die inligting was egter verkeerd aangesien die toernooi nie gespeel is nie weens die opskorting van klubrugby regoor die land weens die Covid-19 pandemie.

MORGAN PIEK