Possies-langasems bly fiks

0
1018
Atlete van Willem Postma volhard in hul pogings om fiks te bly.

Langasems van die Laerskool Willem Postma is beslis ‘n voorbeeld vir baie. Nie alleen bly hulle in grendeltyd steeds fiks nie, maar maak hulle ook dubbel seker dat hulle hard oefen en die toegelate oefentye behoorlik benut. Vir die 55 atlete wat vier keer per week vir ‘n uur lank oefen, is dit vir seker die moeite werd.

“Vir ons atlete beteken die inperkingstyd nie dat daar heeldag voor die televisie, selfoon of rekenaar gesit word nie,” sê Danie Crouse, afrigter van die Willem Postma-langasems. Van die leerders span terselfdertyd hul ouers, boeties en sussies in om ‘n bietjie saam te sweet. Die Willem Postma-langasems se leuse is nie verniet “Aanhouers wen en wenners hou aan!” nie.

“Dit is baie belangrik dat ons in hierdie tyd ook na ons gesondheid kyk. Dit is maklik om heeldag op die bank te lê en niks te doen nie, maar dit skep ‘n baie ongesonde houding en leefstyl, veral as jy ‘n atleet is,” voeg Crouse by.

Hy beveel aan dat mense gaan draf, stap of fietsry in die tyd waarin mense toegelaat word om te oefen. As sportafrigter besef hy ook dat dit die verstand “aan die gang hou, en as ons klein doelwitte vir onsself stel, gee dit ons iets om voor te werk. Dit skep ook ‘n sin van verantwoordelikheid by ons om hierdie doelwitte te bereik. Ons oefengroep wys mense hoe om besig en positief te bly ten spyte van die baie onsekerhede waarin ons ons tans bevind.”

Crouse moedig mense aan om daad by die woord te voeg. “Komaan, moenie wag dat die skole weer begin voordat ons eers weer aktief raak nie. Daar is nie ‘n beter tyd as nou nie.”

Heidre Malgas

heidre@mahareng.co.za