Positiewe gees loop hoog by die Cheetahs

0
967
Van die Toyota Cheetahs spelers wat teenwoordig was tydens die aankondiging dat Toyota vir nog drie die span se hoofborg sal wees. Van links na reg - Gideon van der Merwe, Victor Sekekete, Frans Steyn en Oupa Mohoje FOTO: JOHAN PRETORIUS

Die Cheetahs het weer ‘n reuse- geldinspuiting ontvang met die aankondiging dat die voertuigvervaardiger Toyota die span vir nog minstens drie jaar as hoofborg sal ondersteun.

Die nuus kom op ‘n baie goeie tyd vir die Cheetahs met die span wat na die eerste helfte van die Curriebeker die pasaangeërs is en spog met ‘n onoorwonne status na drie rondtes.Boonop het die regering aangekondig dat sportstadions in Suid-Afrika nou tot ‘n 50% kapasiteit vir ondersteuners mag oopmaak.

Tot onlangs kon slegs 2000 mense buitelug-wedstryde bywoon, en dit het gelei tot slegs sowat 1700 ondersteuners.

Met Toyota wat oor die volgende drie jaar R100 miljoen by die Cheetahs sal inploeg het die unie ontwikkeling in hul visier. Bloemfontein spog sonder twyfel met die beste rugbyskool in die land, Grey-kollege, maar bitter min van die spelers speel na skool vir die Universiteit van die Vrystaat Shimlas of die Sentrale Universiteit vir Tegnologie Ixias. Vrystaat Rugby se doelwit is om dié spelers in die provinisie te behou en hulle ‘n kans te gun om ordentlik onder die leiding van die oud-Vrystaat losskakel, MJ Smith, te ontwikkel by die akademie. Boonop wil die unie vir dié spelers ook die kans gun om te studeer terwyl hulle hul rugbyvaardighede by die akademie slyp.

Nog goeie nuus is dat die Cheetahs vanjaar die Toyota-uitdaagreeks twee keer sal aanbied en met betrekking tot die spanne wat uitgenooi gaan word is daar groot planne met betrekking tot die internasionale spanne. Die hoofuitvoerende beampte van die Cheetahs, Ross van Reenen, het aan Bloemfontein Courant gesê dat hulle die Super Rugby-reuse van Nieu-Seeland, die Crusaders, in hul visier het.
Die Japanese span, Toyota Verblitz, wat tans die Springbok-ster, Pieter-Steph du Toit, in hulle geledere het, kan ook heel moontlik ‘n uitnodiging verwag.

“Ek maak nie beloftes dat ons vanjaar in ‘n internasionale kompetisie gaan speel nie,” het Van Reenen gesê.

“Ek sal baie eerlik met jou wees dat ek dink die moontlikheid is nie te goed nie, en ek sê dit vooraf. Hopelik is ek verkeerd, en ek sal die eerste een wees wat erken dat ek verkeerd is.

“Na gesprekke met Leon Theron (Senior Vise-president van Verkope en Bemarking by Toyota Suid-Afrika Motors), gaan ons egter vanjaar twee Toyota-uitdagings aanbied. Ons gaan ‘n paar ernstige spanne inbring. Ons praat van spanne soos die Crusaders en moontlik die Toyota Verblitz in Japan.”

Op die stadium is daar nog geen aanduiding wanneer dié twee toernooie sal plaasvind nie, maar dit is sonder twyfel die begin van ‘n nuwe en positiewe hoofstuk vir Vrystaat Rugby. – MORGAN PIEK