Populêre duo Belinda & Amy benoem vir Afri Indie Awards

0
257
Belinda & Amy. FOTO: VERSKAF

Die gewilde plaaslike duo, Belinda & Amy, het groot opgewondenheid veroorsaak met hul benoeming vir die Afri Indie Awards. Hulle is erken vir hul twee liedjies, ‘Toring’ en ‘Onsigbaar’, wat albei sterk boodskappe en diep betekenisse dra.

“Ons is so dankbaar! Ons voel dat ons reeds ’n oorwinning behaal het net met die benoeming. Dit gee ons die geleentheid om ons streek te verteenwoordig en te wys dat twee vroue onafhanklike liedjieskrywers, instrumentaliste en sangers kan wees. ‘Indie’ beteken ‘onafhanklike kunstenaar’,” sê die duo.

Belinda & Amy het verduidelik dat hulle bevoorreg is om twee liedjies in te skryf. “‘Toring’ is ’n metaforiese beskrywing van gebeure in ’n mens se lewe wat uitstaan en groot invloed het, selfs al was dit klein oomblikke soos om iewers moois te stap saam met iemand. Die toring is fisies ’n gebou wat deel is van ’n herinnering, asook ’n metafoor van tydloosheid,” verduidelik hulle.

Volgens hulle beskryf ‘Onsigbaar’ ’n intense en diep liefdesverhouding wat, ten spyte van sy onmiskenbare sterkte, nie deur die buitewêreld erken is nie.

Hulle vertel dat die lirieke verwys na die herinneringe en die emosionele verbintenis tussen geliefdes wat “onsigbaar” was, maar steeds werklik en betekenisvol.

“Ons weerspieël oor wat kon gewees het en die pyn van verlore geleenthede. Net omdat iemand verlief is, beteken dit nie dat die verhouding gesond sal wees of sal werk nie. Dit is ’n baie algemene situasie wat dikwels onderskat word, want min mense praat oor ‘the one that got away’,” sê hulle.

Die duo erken dat Bloemfontein ’n groot rol in hul ontwikkeling en groei gespeel het. “Die venues en mense hier het ons van dag een af ondersteun. Ons werk hard om te groei as ‘performers’ en skrywers. Bloemies is ’n eerlike, asook hoogs waarderende basis vir ons,” sê Belinda & Amy.

Die duo se doel is om mense bymekaar te bring en meer verdraagsaamheid onder almal te bevorder, ten spyte van verskille. Belinda & Amy verskyn ook in Julie op Via TV, DSTV kanaal 147, episode 12 van die nuwe Afrikaanse musiekprogram ‘Klanke van my hart’.

Volg hulle gerus op Instagram en Facebook vir meer inligting oor hul musiek en vertonings.

 

Justine Fortuin

justine@mahareng.co.za