Politieke moorde ’n magstryd

0
Politieke moorde ’n magstryd
FOTO: 123rf.com

’n Week ná die moord op ’n senior munisipale bestuurder buite sy kantoor in Rocklands is daar steeds baie vrae wat onbeantwoord bly.

Die moord op Luzuko Nkathalo Ntlabezo, ’n bestuurder in die Infrastruktuurdartement, het ’n skokgolf deur die Mangaung Metro gestuur.

Huldeblyke aan Ntlabezo het ingestroom van, onder andere, die stadbestuurder Sello More en die munisipale woordvoerder Qondile Khedama. “Sy moord sal ’n leemte in die munisipaliteit laat,” het More vertel, terwyl Khedama bygevoeg het: “As die stad kan ons nie spekuleer oor die motief agter die moord nie.”

Bloemfontein Courant het uitgereik na die Willem Els, Senior opleidingskoördineerder by die Instituut vir Sekerheidstudies, om meer te leer oor die motivering agter politieke slypmoorde. “Hierdie tipe moorde is redelik algemeen,” het Els aan Bloemfontein Courant vertel. “Ons sien dit veral in die aanloop van verkiesings, maar ná die tyd is daar ook natuurlik mededinging.”

Willem Els. FOTO: LinkedIn

Volgens Els het mededingende politieke partye in die verlede van huurmoordenaars gebruik gemaak. “In die verlede het ons gesien dat verskillende partye mekaar uitgehaal het, maar ook onlangs het politieke kandidate van dieselfde partye mekaar begin uithaal deur middel van hierdie huurmoordenaars,” het hy verduidelik.

Huurmoordenaars word betaal, soms so min as ’n paar duisend rand, om iemand anders se vuil werk te doen, en die motivering daaragter is gewoonlik geld en mag.

 

“As jy op daai raad sit dan het jy natuurlik mag om tenders te kan uitgee, afhangend van waar jy verkies is,” het Els verduidelik. “Dit gaan oor die omgewing wat jy vir jouself skep, waar jy ander mense kan bevoordeel, maar waar jy ook magtig word as jy ’n politieke rolspeler is.”

Els vertel dat die Suid-Afrikaanse politieke instelling ’n plek geword het waar rolspelers hul verskille met ’n geweer besleg.

Soos met enige moordsaak, volg daar in politieke moorde ’n ondersoek, maar wat politieke moorde anders maak, is die moontlike politieke motivering, en die kans van ’n sluipmoord. “Elke ondersoek is anders, en elke toneel is anders,” vertel Els. “Die ondersoeker moet natuurlik kyk na dié goed. As dit ‘n politieke figuur is wat doodgemaak is, dan gaan hulle eers kyk of daar so ’n ‘rivalry’ op die einde van die dag is, dan sal hulle kyk of hy enige vyande het.”

Die polisie is tans besig met hul ondersoek, en teen druktyd was geen inhegtenisnemings al gedoen nie. Bewyse sal aandui of Ntlabezo se dood ’n sluipmoord was, of net nóg ’n misdaadstatistiek.

 

Warren Hawkins

warren@mahareng.co.za

No posts to display