GEORG VAN ECK
Bloemfontein-Polisie Rugbyklub is stadig, maar seker besig om behoorlik in rat te kom vir die eerste skote, wat reeds op 16 Februarie in die nuwe nasionale klubrugbyreeks om die Gemeenskapsbeker, klap. Ná twee rondtes proewe waaraan sowat 80 spelers op Bobbiespark in Fichardtpark deelgeneem het, het drie Polisie-spanne hul eweknieë van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), Ixias, Tjisas en Shawas, in opwarmingswedstryde in die SUT-stadion gepak.
Die Polisiemanne het wel 33-19 teen die Ixias, 38-0 teen die Tjisas en 31-7 teen die Shawas vasgeval. Hulle het egter gewys dat hulle die reserwekrag en spelers het om die Gemeenskapsbekerreeks in groep B teen African Bombers (OP), Rovers (Griffons) en Pretoria-Polisie (BB) met vertroue aan te durf.
In die hoofwedstryd tussen Polisie I en die Ixias was dit veral die Polisie-agttal wat met kragtige dryf- en maalbewegings die studente onder groot druk geplaas het. Die fikser Ixias het teen die einde wel die oorhand gekry, maar nie voordat hulle talle aanslae van Polisie op hul doellyn moes afweer nie.Dit was veral Polisie se voorrymanne, Renier Steyn, Sporie Bezuidenhout, Jaco Rademeyer, Deon Venter en Thaart Slater wat die Ixias in die skrums opgekeil het. Hulle het sterk ondersteuning van Frans Mortlock, Mike Taylor en die ander vaste voorspelers, wat ingespan is, gekry.
Ook in die los het Johan van der Merwe, Hennie Geldenhuys, Randall Nelson, Jaco Lotter uitgeblink.
Die Polisiemanne se verdediging was goed, maar in die agterlyn het alles nie so seepglad verloop nie. Op losskakel het die immergroen Isak Job uitstekende spel gelewer, terwyl Frankie Meyer, Jaco Meyer en Heino Shepperson op die punte goed gevaar het.
Harde werk wag op die afrigters, Barend du Plessis en Jaco Coetzee, om die regte spelers in kombinasie in die agterlyn te vind en meer slaankrag daar te verkry. Met ’n agttal wat goeie balbesit kan verseker, is die stryd al halfpad gewonne.