Polisielid se begrafnis gevul met emosie

0
2126
Konst. Obert Mekoa se pet op sy kis tydens die begrafnisdiens op Koffiefontein. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Reeds van vroegoggend af op Saterdag 8 Julie het die orkes van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gewyde melodieë gespeel, terwyl die lug van die dorpie Koffiefontein gevul was met emosies en die harte van inwoners met vrae oor die ontydige dood van konst. Obert Mekoa.

Mekoa se begrafnisdiens in die Verenigde Hervormde Kerk in Ditlhake, Koffiefontein, was nie net ‘n geleentheid vir sy familie om van hom afskeid te neem nie, maar ook een waar vredesbeamptes hul laaste respek aan hul gevalle kameraad kon bewys het.
Mekoa, wat een van twee beamptes was wat op 29 Junie aan diens geskiet is, het ‘n staatsbegrafnis ontvang. Sy kollega, Mzonani Manjo, word op Sondag 9 Julie in Botshabelo begrawe.
Benewens die honderde lede van die SAPD en die Suid-Afrikaanse Polisie-unie (SAPU), was die LUR vir polisie, paaie en vervoer, Sam Mashinini en die provinsiale polisiekommissaris, Lebeoana Tsumane, ook onder die begrafnisgangers.
Sowel Mashinini as Tsumane het die aanvalle op poliesiebeamptes veroordeel en gesê hulle sal nie dié behandeling van geregsdienaars verdra nie. “Die dood van een polisiebeampte is een te veel,” het Tsumane gesê.
Mashinini het by die begrafnisgangers gepleit en gevra dat alle gemeenskapslede moet saamwerk om hierdie saak op te los en polisie te help om die skuldiges aan die pen te laat ry. Hy sê dis al wat troos sal bring aan die gesinne wat hul geliefdes verloor het en die gemeenskap wat hul helde verloor het.
Tsumane het ook genoem dat daar ‘n program aan die gang is om alle polisiekantore in die Vrystaat van CCTV-kameras te voorsien en polisiebeamptes met liggaamskameras toe te rus. – Pierce van Heerden
pierce@mahareng.co.za