Polisiebeampte gewond, een dood ná besigheidsroof in Bloemfontein

0
2125
‘n Passasier in ‘n polisievoertuig is dood en ‘n polisiebeampte is gewond nadat sy gisteraand in ‘n gewapende rooftog by ‘n vulstasie in Kagisanong, Rocklands, gewond is.

Polisiewoordvoerder, Motantsi Makhele, sê dié beseerde speurder is in ‘n stabiele toestand in ‘n Bloemfonteinse hospitaal, terwyl die passasier met sy aankoms by ‘n plaaslike hospitaal dood is. Nog ‘n speurder wat in die voertuig was, is nie beseer nie. Makhele sê gister omstreeks 19:45 het drie gewapende mans by die vulstasie se winkel ingestorm. ‘n Onbekende bedrag geld is gebuit.

Die twee speurders en ‘n passasier was in ‘n ongemerkte polisievoertuig en het tydens die rooftog by die vulstasie aangekom. Die booswigte het op dié voertuig losgebrand. Die vroue speurder is agter die stuurwiel en die passasier is agter in die voertuig gewond.

Die rowers het met ‘n silwer Honda Accord op die vlug geslaan. OFM-nuus verneem van ‘n betroubare bron dat die passasier wat dood is, verwant was aan die beseerde vroue speurder.

Makhele sê klagte van moord, poging tot moord en besigheidsroof word ondersoek.

Hy vra enigiemand met inligting oor die rooftog om hul naaste polisiekantoor te bel op die polisie se noodnommer 08600-10111.

CHRISTAL-LIZE MULLER / OFM NUUS