‘n Polisiebeampte van Bloemfontein, wat na bewering vyf polisiedossiere uit die plaaslike landdroshof gesteel het, en ‘n plaaslike sakeman verskyn môre in die hof.
Woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, Phulani Shuping, sê die saak teen Patricia Pitt en Thulani Qhiti, die sakeman, is nie gister in die plaaslike landdroshof afgehandel nie omdat 'n getuie nog moet getuig.
Pitt, van die Parkweg-polisiekantoor, is vroeër in hegtenis geneem nadat sy onder valse voorwendsels vyf dossiere by die Bloemfonteinse landdroshof geneem het. Sy het haarself glo voorgedoen as ‘n lid van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe, wat die betrokke dossiere ondersoek. Qhiti word in een van die gesteelde dossiere weens beweerde verkragting ondersoek.
Pitt is op borgtog van R3 000 uitgelaat. Qhiti sal môre hoor of sy borgaansoek suksesvol is. Albei staar aanklagte van bedrog, dwarsboming van die gereg en diefstal in die gesig.
-Mark Steenbok