Nuusspan
Bloemfontein. – ‘n Man is die naweek in Virginia deur die polisie uit ‘n dodelik gyselaarsdrama gered.
Polisiewoordvoerder Malebo Khosana sê Timothy Madhoche is Saterdag oggend na die Sandrivier-brug in Virginia gelok, waar hy deur vyf mans oorval en in ‘n voertuig se kattebak toegesluit is.
Hulle het hom na ‘n nabygeleë plaas geneem waar die verdagtes hom met vuurwapens aangehou het. Hy is ook in die proses van R1 000 kontant besteel. Die verdagtes het Madhoche beveel om sy broer te bel en vereis dat hy onmiddellik R50 000 moet bring, of Madhoche sal om die lewe gebring word.
Sy broer het die polisie gekontak, waarna Kaptein Rabaholo Mthudi ‘n span van gyselaarkundiges saamgestel het om die verdagtes op te spoor. Hulle is kort daarna, danksy telefoonopsporingstegnologie, by ‘n plaas Emmarensia naby die Beatrix-myn opgespoor.
Met die polisie se aankoms het die verdagtes gevlug en Madhoche is gered. Hy was ongedeerd. Die polisie soek steeds na die verdagtes.