LANI FOUCHÉ
Terwyl skok en ongeloof nog oor die boeregemeenskap in Parys in die Vrystaat hang, is die moordenaars van ‘n bejaarde egpaar van ‘n plaas naby dié dorp nog op vrye voet.
Die liggame van Ernst van Rooyen en sy vrou, Annetjie is Dinsdagoggend in hul tuiswinkel op hul plaas Somerset gevind. Hul huishulp het op die toneel afgekom waar Ernst op die grond gelê het met meswonde in sy bors, en Annetjie in kliphard in ‘n vrieskas aangetref is. Die oorsaak van haar dood is nog onbekend.
"Die polisie volg alle leidrade op om die skuldiges op te spoor," sê polisiewoordvoerder, Thandi Mbambo. Sy sê die rede vir die moord blyk diefstal te wees, omdat items uit die huis gesteel is.
Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het intussen die minister van polisie, Nathi Mthethwa, daarvan beskuldig dat sy stilswye oor plaasmoorde aan aandadigheid grens. AfriForum het verlede week ‘n klag by die Openbare Beskermer ingedien oor Mthethwa se onverantwoordelike hantering van die plaasmoordkrisis.