Polisie lê beslag op beweerde gesteelde rou vleis

0
800

Die polisie in die Vrystaat raai mense aan wat vleis in grootmaat aankoop om die betaalstrokies veilig te bewaar en dit nie weg te gooi nie.

Dit kom nadat vier mans van Lindley verlede Donderdag in hegtenis geneem is in verband met die besit van beweerde gesteelde vleis. Polisiewoordvoerder, Zweli Mohobeleli, sê die polisiebeamptes het ‘n wenk ontvang dat daar ‘n karkas van ‘n bees, wat vermoedelik gesteel is, by ‘n huis in Ntha is.

Hy sê die polisie het inligting opgevolg en het na die betrokke huis gegaan. Met die polisie se aankoms was daar drie mans. Die huis is deursoek en daar is op groot sakke met rou stukke vleis afgekom. Mohobeleli sê die verdagtes kon nie genoegsame bewyse lewer van waar hulle die vleis bekom het nie. Drie mans is in hegtenis geneem en ‘n vierde man, wat ook vermoedelik betrokke is, is by ‘n ander huis in hegtenis geneem.

Dit is in dié stadium onbekend of die mans die rou vleis wou verkoop of dalk wou voorberei en gebruik op ‘n geselligheid.

Die verdagtes, Johannes Mofokeng (47), Johannes Xaba (45), Molahlehi Solomon Leseba (43) en Mohapi Benjamin Mofokeng (38) is gister in die landdroshof in Lindley op borgtog van R1 000 elk vrygelaat. Hulle sal na verwagting weer op 19 Desember in die hof verskyn.

Mohobeleli sê genl.maj. Jan Tsotetsi, Bethlehem se groepbevelvoerder, waarsku mense teen die besit van gesteelde goedere en moedig hulle verder aan om betaalstrokies van vleis wat vir geleenthede soos onder meer troues, partytjies en begrafnisse aangekoop word, nie weg te gooi nie.

Mense wat deel is van stokvel-groepe word ook gewaarsku om bewys van betaling te hou. Stokvel-groepe koop gewoonlik aan die einde van die jaar ‘n skaap of ‘n bees en verdeel die vleis tussen hulle. ‘n Betaalstrokie moet veilig bewaar word deur een van die lede van ‘n stokvel-groep, sê hy.