Pokomela terug vir die Cheetahs

0
155
Junior Pokomela FOTO: MORGAN PIEK

Die Toyota Cheetahs-losvoorspeler, Junior Pokomela, sal na verwagting vandeesweek sy langverwagte terugkeer maak vir die Curriebeker-wedstryd teen die Poemas in Bloemfontein.

Pokomela het voldoende herstel van ‘n polsbesering wat hy in November verlede jaar opgedoen het.

Die Cheetahs het wel dié week nog ‘n paar Covid-19-gevalle, en dit sal hul diepte in sekere departemente deeglik toets.

Maandagoggend is nog Covid-19-toetse uitgevoer en dit het tot ‘n paar positiewe gevalle gelei.

Die Cheetahs-hulpafrigter, Charl Strydom, het aan Bloemfontein Courant gesê dat Pokomela en ‘n paar ander losvoorspelers weer beskikbaar is om te speel.

“In die senterposisie is ons ‘n bietjie uitgedun. Van die voorspelers is terug, veral Junior. Dit is wonderlik om hom terug te hê. Hy was ‘n ruk lank beseer en hy sal vandeesweek kan speel. Jeandré Rudolph en Aidon Davis is ook terug en sal ook kan speel. Dit is lekker dat ons uiteindelik ‘n paar ouens terugkry.”

Die Junior Springbok-kaptein, George Cronjé, is ook terug van Stellenbosch waar hy in die Onder 20- Internasionale reeks teen Argentinië, Uruguay en Georgië gespeel het. Hy sal egter nie beskikbaar wees vir die kragmeting teen die span van die Laeveld nie wees ‘n kniebesering.

Verlede week het Cheetahs vier punte aan die Bulle afgestaan ​​weens die Covid-19 gevalle in die span. Dit het daartoe gelei dat die Cheetahs nie ‘n volle voorry kon speel vir die wedstryd teen die verdedigende kampioen nie. Hierdie week lyk sake in dié stadium anders en alle aanduidings is dat die Cheetahs wel in aksie sal wees.

Dit kan beteken dat daar na van die Universiteit van die Vrystaat Shimlas en Sentrale Universiteit van Tegnologie Ixias se spelers gekyk sal word.

Intussen het die Springbok-agterlynspeler, Frans Steyn, positief getoets by die nasionale kamp vir die reeks van twee toetse teen Georgië. Steyn, wat verlede week tydens die 40-9 in Pretoria in aksie was, is een van vier spelers wat Dinsdag positief getoets het. Aangesien vier spelers en ses lede van die bestuurspan positief is, is Vrydagaand se tweede toets in Johannesburg in gedrang. Vier lede van Georgië is ook positief.

Die Cheetahs se span vir Vrydag se kragmeting in die Toyota-stadion word Donderdag aangekondig en die wedstryd skop om 16:00 af. – MORGAN PIEK